12 dae gelede
Plumtree: Die Wallabies speel vuil
John Plumtree  ~ Getty Images

DIE Wallabies word nou van vuilspel verdink ná hul onverwagse gelykop uitslag in die eerste Bledisloe Cup teen die All Blacks.

Die All Blacks en Wallabies pak mekaar Sondag in die tweede Bledisloe-stryd op Eden Park in Auckland nadat die eerste wedstryd in Wellington met 16-16 afgesluit het.

Volgens John Plumtree, hulpafrigter van die All Blacks, was daar tye in Sondag se eerste wedstryd toe die Wallabies geniepsige dinge gedoen het wanneer die skeidsregter en sy beamptes se oë nie regtig op van hulle gefokus was nie.

Dit het Plumtree herinner aan die dae toe Dave Rennie (Wallabies-afrigter) nog die Chiefs in Superrugby afgerig en dieselfde soort taktiek gebruik het om teenstanders te ontsenu.

Plumtree was toe nog hulpafrigter van die Hurricanes.

“Ja, daar was vergelykings en ons het geweet dit gaan kom,” het Plumtree gesê.

“Sulke soort spel moet deur die skeidsregter hanteer word.

“Daar was verskeie kere toe sulke dinge weg van algemene spel gebeur het, en dit moet ordentlik op die veld hanteer word.

“Ons moet egter ook aanpasbaar wees vir sulke goed.

Ongestraf

“Ek dink dit is hoekom daar so ’n paar senior spelers is wat warm onder die kraag geraak het daaroor.”

Plumtree blameer egter nie die skeidsregter in die eerste stryd, Paul Williams, omdat hy die Wallabies se beweerde geniepsighede ongestraf gelaat het nie.

“Hulle sien wat hulle sien, en as Paul dit gemis het, dan is dit nou maar so.

“As dit egter ’n gewoonte begin word dat hy dit sien en nie aanpak nie, dan sal ons natuurlik teleurgesteld daaroor wees.

“Ons het nog nie sulke gesprekke met die skeidsregter gehad nie.

“Dit is wat dit is. As dit hul doel is om meer dinge weg van algemene spel te doen, dan moet ons seker maak ons doen dieselfde,” het Plumtree gesê. – Stuff.co.nz

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters