2 maande gelede
Plan en fun help span
MANNE: Chippa United se Diski-span.  ~ Foto Verskaf

LISA Benjamin sê hulle moet ’n bietjie uit die boks dink om die Chilli Boys se Multichoice Diski-span aan die gang te hou.

Benjamin is die span se ontwikkeling-en-kondisioneringsafrigter.

Die maatreëls teen die verspreiding van die corona-virus maak dit nie net vir beroepspelers en -atlete moeilik om saam te oefen nie; atlete op alle vlakke word geraak.

Chippa se Diski-span het die laaste paar wedstryde goed gevaar. Hy het net twee wedstryde oor gehad voordat die seisoen opgeskort is.

Volgens Benjamin het sy vir elke speler ’n huisprogram gegee. Hulle bly via Whats­App in verbinding.

Hang

“Dit is moeilik, maar elkeen moet sy kant bring om homself in dié tyd besig te hou.

“Ons het aan almal oefenprogramme verskaf, maar dit hang van hulle af of hulle dit sal volg en hoe hard hulle gaan werk,” het Benjamin gesê.

Sy het bygevoeg baie daarvan is body weight-oefeninge.

“Baie van die Diski-spelers het nie toegang tot ’n gym of toerusting nie; daarom is baie van die oefeninge dinge wat jy met jou eie gewig kan doen – soos ’n push-up.”

Die span het verlede week teen die senior span ’n vriendskaplike wedstryd gespeel.

“Ons het met 4-1 verloor, maar dit was net om die spelers ’n bietjie bene te laat strek. In hierdie tyd het die Nelson Mandelabaai Stadion ook die spelers met die temperatuur gun gemonitor, maar nou sal ons alles van die huis af moet doen.”

Moedig

Benjamin het gesê hoewel die spelers nie saam oefen nie, is hulle steeds ’n span.

“Ons moedig mekaar in die sosiale media aan en neem deel aan die challenges, soos die toiletpaper challenge.

“Dit help en hou die spelers besig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters