8 dae gelede
Pirates sink Citizens om MTN8 semi's te haal
taariq fielies,deon hotto,pirates
Dis MYNE: City se Taariq Fielies (links) klop Deon Hotto van Pirates tydens 'n MTN8-kwarteind in die Orlando-stadion.  ~ 

DIS neusie verby vir Cape Town City se MTN8-voortuitsigte.

Dit nadat Orlando Pirates 'n 10-man City-span met 1-0 tydens 'n kwarteindstryd van die aanloklike bekerreeks Saterdag in die Orland-stadion geklop het.

Dit was die seerowers se debutant, Terrence Dzvukamanja, wat die wendoel in die eerste helfte aangeteken het, om hul plek in die halfeind te bespreek.

City, wat die toernooi in 2018 gewen het met Benni McCarthy, kon nooit regtig sy greep op die bekerstryd kry nie maar het genoeg halwe kanse geskep om sukes te behaal.

Die Citizens se taak het ná die halfuurmerk meer uitdagend geword toe Fagrie Lakay 'n straight rooikaart vir ‘n gevaarlike tackle op Pirates se nuweling Wayde Jooste ontvang het.

Dzvukamanja het beslis sy nuwe spanmaats beïndruk toe hy sukses behaal het met 'n fantastiese kopskoot van binne die doelgebied in die 23ste minuut.

Dis ná 'n goeie linkervoet cross deur Gabadinho Mhango van die regtervleuel.

Ná rustyd moes City se Peter Leeuwenburgh op sy hoede wees om die seerowers te verhoed van sy voorsprong te verdubbel.

City het egter nie slap gaan gaan lê nie en was begeesterd - veral met Shane Roberts op linkervleuel, maar die finale aangee het skipbreuk gely.

Thabo Nodada het byna sake gelykop gemaak ná die uurmerk maar sy regtervoet curling shot het net-net oor die dwarspaal geseil.

Leeuwenburgh het in die 84ste minuut uitstekend gekeer om sy span in die wedstryd te hou. 

Tashreeq Morris het diep in beseringstyd City se beste kans verbrou ná 'n kliniese aangee van Abbubakar Mobara. 

Morris moes net kontak maak met sy kop maar hy het misluk en daarmee City se MTN8-drome.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters