Verlede maand
Pienaar bring ervaring
Gesoute speler: Ruan Pienaar in aksie vir die Sharks.  ~ _GALLO IMAGES

RUAN Pienaar het nooit gedink hy sal ooit weer ’n Sharks-trui oor sy kop trek nie.

Die 37-jarige boorling van Bloemfontein het hom onlangs weer van die Cheetahs af as ’n leenspeler vir die United Rugby Championship (URC) by die Sharks aangesluit.

Die veteraan, wat die Springbokke van 2006 tot 2015 in 88 toetse verteenwoordig het, gaan Saterdag teen Cardiff in Wallis te staan kom.

“Dis great om weer die geleentheid te kry om saam met die ouens te speel. Ek het goeie herinneringe van my tyd met die Sharks in Durban,” het Pienaar in ’n aanlyn konferensie gesê.

“Die opset is nou heeltemal anders omdat ek destyds die youngster in die groep was, terwyl ek nou die oudste is.

Gelukkig

“So, dit is nou ’n bietjie anders, maar ek geniet dit nog steeds baie.

“Ek het ’n wonderlike tyd gehad met die Sharks in Durban en is baie gelukkig om die geleentheid te kry om weer vir hulle te speel.”

Die Sharks het laas week in Swansea hul eerste oorwinning met 27-13 oor die Ospreys van Wallis behaal.

Volgens Pienaar sal die oorwinning die Durbaniete baie selfvertroue gee.

Die Durbaniete sal egter gefokus moet bly en hard werk, want hulle verwag dit gaan nie maklik teen Edinburgh wees nie.

“Ons het die afgelope 25 jaar geleer hoe moeilik dit is om op Superrugby-toere te gaan en oorwinnings te behaal. Ek dink dis dieselfde hier,” het hy gesê.

Volgens Pienaar sal dit baie belangrik wees vir die Sharks om hul toer van ’n maand lank op ’n hoogtepunt af te sluit.

Bou

“Cardiff is ’n goeie span gelaai met internasionale spelers en ’n gevaarlike agterlyn.

“Dit gaan ’n moeilike uit­daging vir ons wees.

“Ons moet nou net seker maak ons bou voort op ons goeie oorwinning oor die Ospreys,” het hy bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters