3 maande gelede
Piedt prys troepe

DIE Lions is nou in die visier van Dane­ Piedt en sy troepe.

Die kaptein van die Cape Cobras het gesê die weerstoestande het sy span in die meerdaagse reeks van ’n sege oor die Titans beroof.

“Ons het die Titans in ’n hoek vasgepen, maar die reën en swak lig het ons gekortwiek.”

Piedt was een van die top- spelers van die Kaapse fran­chise in die kragmeting met die Titans. Die meerdaagse wedstryd in Benoni het onbeslis geëindig.

Piedt het ’n veelsydige vertoning gelewer. Hy het 74 lopies in die Cobras se eerste beurt aangeteken en ook 5/93 in die wedstryd platgetrek.

Hy het sy spelers vir hul individuele vertonings geloof.

Hoewel die Kaapse streekspan meer punte as die Titans uit die stryd gekry het, bly hy steeds in die vierde plek op die puntelys.

Die Kapenaars staan nou op 78,26, terwyl die Titans aan die boonste plek vasklou met 92,1 punte.

Die Lions sukkel vanjaar, het tot dusver twee van hul ses wedstryde verloor en is onderaan die puntelys geanker.

Piedt het gesê: “My doel as kaptein is om van voor af te lei. Behalwe Pieter Malan se 137 lopies was die boulers ook op hul beste, veral Lizaad Williams en Dane Paterson.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters