3 dae gelede
Petersen is ’n legende
Bernard Petersen  ~ Werner Wippenaar

DIE beskrywing van die woord “sportman” kry beslis ’n nuwe betekenis wanneer jy die voorreg het om met Bernard Petersen te gesels.

Petersen (54), wat in Schauderville gebore is, vertel rugby was die eerste sportsoort waaraan sy pa, William, hom blootgestel het.

Die liefde vir sport wat dié voormalige Oostelike Provinsie-losvoorspeler in die apartheids­jare en Saru Sacos-legende het, het in sy kindertyd by die Laer­skool Frank Joubert begin.

Hy het reeds op junior vlak OP-kleure verdien, maar dit was by die Swans Rugby Football Club waar sy beste herinneringe lê.

Sy pa was die voorsitter van die juniors daar.

“Toe ek begin speel het, was dit nie net op skool nie. Ons klubs het toe ook sterk junior-klubspanne gehad.

“Dit is waar die grondslag gelê is.

“Ál vier my broers het ook rugby gespeel. So, dit was ’n groot familieding. Ons huis was die hub van Swans se junior-afdeling,” vertel hy.

Hy sê daar is altyd Donderdagaande vergadering gehou. Die huis was vol vir méér as net die ver­gadering.

“Die manne het geweet as hulle meeting toe kom, is daar ook mielies en bone opgedis,” lag hy.

Petersen sê een van sy beste herinneringe is toe hy sy debuut in eersterangse rugby­ gemaak het.

“Ek het op my 16de verjaardag vir die eerste keer in die Adcock Sta­dion teen Glen Roses, toe nog die spogspan van die Baai, uitgedraf.

“Hoewel ons die wedstryd verloor het, voel ek dis regtig waar dinge vir my begin het.”

Petersen het sy skoolloopbaan by die Hoërskool David Livingstone voltooi en toe by die Dower College onderwys gaan studeer.

Buiging

Hy vertel dit is waar hy die voormalige Springbok-afrigter Allister Coetzee die eerste keer ontmoet het.

“Ek kan so ’n paar stories vertel van daardie jare se wedstryde, maar van hulle moet van die rekord af wees,” sê hy laggend.

In 1985 het Petersen die SA College-span gehaal en toe sy provinsiale debuut teen Sentraal-Karoo in die Adcock gemaak.

“Ek kan goed onthou, want ek het ’n driekuns gedruk in daardie wedstryd.

“Van daar het ek gereeld gespeel en in 1990 is ek as OP-kaptein aangewys.”

Volgens Petersen is daar nie regtig enige slegte herinneringe nie, maar hy sê die nederlaag van 9-15 teen WP in die Athlone Stadium in sy eerste SA Cup-eindstryd in 1986 was nie ’n goeie gevoel nie.

Betrokke

“Ag, ek voel ook net die feit dat daar nie so baie record is oor die ou Saru se rugby nie, is iets wat ’n teer punt is. Daar was nie genoeg blootstelling oor die jare nie en dis asof ons nie geskiedenis het nie, want daar is amper niks om op terug te slaan nie.”

Van kleins af is sport al deel van Petersen se lewe. Al speel hy lankal nie meer nie, is hy steeds by sport betrokke.

Die voormalige liggaamsoefening-onderwyser by Bertram Senior Sekondêr kan jy ook niks vertel van ander sportkodes nie.

Daarom is hy tans die Nelson Mandela-Universiteit (Missionvale-kampus) se sportbestuurder en betrokke by amper enige sportsoort waaraan ’n mens kan dink.

Karate, volleyball, basketbal, atletiek ... daar is geen sport waaraan hy nie al sy hande gewaag het nie.

Met sy tyd as sport­bestuurder by die Vista-Universiteit (1994-2004) het hy 10 sportkodes bestuur, asook 4 kultuur-organisasies.

So, hoe breek hy weg van sport? Wel, met nóg sport.

Hy is tans die aanbieder van ’n sportprogram op die plaaslike radiostasie PEFM.

Verder is hy ’n kranige langafstandatleet.

Hy kan nie onthou hoeveel padwedlope hy al deur die jare voltooi het nie, maar hy het reeds vier ultras en twee Two Oceans Marathons voltooi. “Die Comrades is nog in die beplanningsfase,” skerts hy.

Onthou

Petersen het deur die jare reeds op baie komitees ge­dien en vrywillige werk gedoen. Hy sê hy wil eintlik meer vir sy hulp in die gemeenskap onthou word.

“Mense sal my seker altyd as ’n rugbyspeler onthou, maar ek voel ons is op die aarde geplaas om ons gemeenskap te help.

“Daarom is ek betrokke by só baie sport- en ander organisasies. Ons jeug benodig rolmodelle en ons kan nie moeg raak van probeer om ’n verskil te maak in ander se lewe nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters