2 maande gelede
Percy laat Roses weer mooi blom
IMMERGROEN: Percy Williams was Roses­ se gevaarlikste angel teen Newtons.Foto:ANVER ABRAHAMS  ~ 

DIE Roos blom weer.

Roses United het verlede week gesukkel om teen Saron aan die gang te kom, maar het Saterdag sy buurman Newtons in ’n derby met 58-19 in Newton Park afgeransel.

Die game was met rustyd nog in die weegskaal toe Roses met 19-7 voor was.

Roses, met die immergroen Percy Wil­liams (skrumskakel) wat aan die brand was, was in die tweede helfte onstuitbaar en het sewe drieë gedruk.

Williams was aan die voorpunt van al Roses se aanvalle met sy defence-splitting passes, breekslae, box kicks en slim besluite. Hy het weer gewys hoekom hy so hoog aangeskryf word.

Voorlangs was die kaptein, Herman Bailey (stut), Kennedy Rorwanna (flank), en Zayde Jardine (agsteman) die uitblinkers vir die besoekers.

Die spoed en vlugvoetigheid van Bjorkan Hendricks (senter) en die agterste driehoek van Jacobus Philander, Burton Booysen (die vleuels) en Heini Isaacs (heelagter) het die Bombellas talle hoofbrekens besorg.

Alles was egter nie maanskyn en rose vir die sesmalige Boland-kampioen nie.

Die Bombellas se dissipline het hulle in die steek gelaat en drie van hul spelers het elk ’n blaaskans van 10 minute geniet weens ongeoorloofde spel.

Newtons se fiksheid moet onder die vergrootglas geplaas word nadat menige van sy voorspelers reeds vroeg in die tweede helfte poegaai voorgekom het.

Verskuif

’n Baie tevrede Bailey het aan Son gesê: “Ons het ’n paar nuwe manne wat nou hulle eerste proesel van derby-rugby gekry het en ons is opgewonde oor die nuwe talent.

“Ons verskuif nou ons fokus na die Saldanha-Paastoernooi. Omdat die selfvertroue weer terug is, kan ek nie sien hoe ons van die toernooi gaan terugkeer sonder om ons titel te verdedig nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters