4 dae gelede
Pep talk vir City-spelers
VREUGDE: City se Riyad Mahrez (middel) vier sy doel met sy spanmaats.Foto’s: GETTY IMAGES  ~ 

“MOENIE vergeet om tot die laaste sekonde te speel nie,” het Pep Guardiola, bestuurder van Manchester City, sy spelers gemaan.

Dié Spanjaard se waarskuwing kom nadat die Cityzens Dinsdag op Vicarage Road behoorlik moes vasklou vir ’n senutergende Premier­liga-oorwinning met 2-1 oor Watford.

Doele deur Leroy Sané en Riyad Mahrez in albei helftes het die oorwinning verseker.

Maar Abdoulaye Doucouré se doel in die 85ste minuut het nie net die tuisspan tydelike hoop besorg nie, maar ook angstige oomblikke vir die verdedigende kampioen.

“Ons het in die kleed­kamer gepraat oor wat veral in die laaste 20 tot 25 minute aangegaan het,” het Guar­diola gesê.

“Dis ’n les vir ons.

“Jy kan nooit vergeet om tot die laaste sekonde te speel nie – totdat die skeidsregter besluit om huis toe te gaan.”

Die breier sê dis normaal om te wen en dan te verbeter, maar om te verbeter moet ’n span sulke situasies beleef.

“As ons ons teenstanders toelaat om 5, 10, 15 minute beheer te neem, kan enige iemand vir ons probleme skep en ons oorwin,” het Guardiola bygevoeg.

Hy het ses veranderinge aan sy span aangebring wat Bournemouth oor die naweek geklop het.

Raheem Sterling, wat in daardie stryd uitgeblink het, moes dié keer tevrede wees met ’n plek op die plaasvervangerbank.

Sergio Agüero is ook nog op die kantlyn met ’n dyspierbesering. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters