8 dae gelede
Pep skimp nou dat City wel striker benodig
SOTE SUKSES: Bernardo Silva was Man City se held Saterdag teen Leicester City.  ~ AP

PEP Guardiola, manager van Mancester City, het geskimp dat hy wel ’n striker benodig.

Volgens Guardiola was hy egter tevrede met sy span se weg-oorwinning Saterdag met 1-0 oor Leicester City. Die enigste kritiek wat hy gehad het, was dat sy span meer doele kon aangeteken het.

Soos normaalweg het City die balbesit oorheers en talle doelkanse geskep.

Die Spanjaard het egter ook erken dat die geluksgodin beslis aan sy Cityzens se kant was. Leicester het met sy teenaanvalle talle geleentheide geskep.

Jamie Vardy het die bal in die net gehad vir Leicester, maar die skeidsregter het beslis dat hy onkant was.

Harvey Barnes het met ’n kopskoot ook City se spelers laat sweet toe hy die dwarslat getref het.

Guardiola verwag dat sy span meer genadeloos moet wees.

“Ons het baie kanse gehad en moes meer doele aangeteken het. Ons moet eenvoudig meer klinies wees.

“Nogtans is ek tevrede dat ons sukses behaal het. Ons het van die begin af goed gespeel en hulle onder druk geplaas.

“Ná die internasionale break is daar altyd kommer oor hoe gou die spelers weer gaan aanpas. Voor die break was ons vir drie weke op ’n baie hoë vlak,” het Guardiola gesê. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters