17 dae gelede
Pep loof City se veggees teen PSG
John Stones
LADUMA! John Stones van Manchester City vier Woensdag in Parys sy spanmaat Kevin de Bruyne se gelykmaker teen PSG.  ~ Getty Images

PEP Guardiola, manager van Manchester City, het sy span se veggees geloof ná hul sege teen Paris Saint-Germain.

Dit is tydens die Cham­pions League se halfeindstryd Woensdag in die Parc des Princes Stadium toe PSG die stryd met 10 spelers klaargemaak het.

Twee doele in die tweede helfte, deur onderskeidelik Kevin de Bruyne en Riyad Mahrez, het aan die Citizens ’n sege van 2-1 besorg voor die tweede been, wat in Manchester Dinsdag beslis word.

Dit was egter nie alles plain sailing vir Guardiola-hulle nie. Hulle moes eers ’n agterstand uitwis nadat PSG se kaptein, Marquinhos, die tuisspan vroeg in die eerste helfte die voortou gegee het.

Druk

Guardiola sê sy spelers se gesukkel in die eerste helfte is verstaanbaar omdat hulle nie ervare genoeg is in dié ronde van die prestigeryke klubkompetisie nie.

“Met die telling op 1-0 was hulle (PSG) baie goed. Ons kon nie goed druk toepas nie en ons het nie goeie balbesit gehad in die regte posisies nie en dis normaal. Ek verstaan die klub het nie die ervaring in hierdie fase van die kompetisie nie.

“Dit help ons om te besef wanneer ons onsself is, kan enige iets gebeur. Veral in die tweede helfte was ons ongelooflik aggressief.”

Guardiola het erken dat City uit sy vorige ervaringe geleer het om vroeg in wedstryde ’n agterstand uit te wis – met verwysing na die kwarteind teen Borussia Dortmund.

“In Dortmund het ons ’n doel afgestaan en teruggeveg en vandag is dit dieselfde. Die veggees is verblydend.

“Al wat ek in die tweede been verwag, is dat ons onsself moet wees en ons uitleef. Dit gaan op geen ander manier gebeur nie.

“Ons sal die regte woorde en regte besluite vind,” het Guardiola gesê.

PSG se baas, Mauricio Pochettino, reken weer dat De Bruyne ook ’n rooikaart gewys moes word het vir ’n slegte tackle.

“Dit was dieselfde aksie en dit kon ’n rooikaart gewees het.” – Reuters

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters