2 maande gelede
Pandemie is ’n bedekte seën
Wayde Van Niekerk  ~ Gallo Images

WAYDE van Niekerk beskou die uitstel van die Olimpiese Spele tot 2021 as ’n bedekte seën.

Die wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen in die 400 m glo dit sal hom genoeg tyd gee om ordentlik te oefen om sy 400 m-titel suksesvol te verdedig.

Die 27-jarige boorling van Kraaifontein het in Oktober 2017 ’n ernstige kniebesering in ’n celebrity-raakrugbywedstryd opgedoen. Hy moes ’n operasie ondergaan.

Sedertdien is hy in ’n wedloop teen tyd – om betyds te herstel vir die Spele, wat vanjaar op 24 Julie in Tokio sou begin het.

Hy het Dinsdag ná die nuus van die uitstel van die Spele tot volgende jaar gesê: “Ek probeer die positiewe aspek daarvan sien.

“Ek het nou baie meer tyd om voor te berei en in die res van my loopbaan te belê.

“Tokio is net ’n verdere stap vir die hele nalatenskap wat ek graag wil agterlaat.

“Dit gee my meer tyd om myself te versterk, sodat ek in beter shapekan wees vir die Spele.

“Dit is so ’n bietjie van ’n downer dat dit nie hierdie jaar gaan gebeur nie, maar dit gaan steeds plaasvind.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand aangekondig Suid-Afrika gaan vir 21 dae op lockdown wees.

Van Niekerk het laat blyk dat hy tydens dié periode in kommunikasie sal bly met sy afrigter, tannie Ans Botha, oor sy oefenprogram.

Intussen sê Akani Simbine, die nasionale rekordhouer in die 100 m, al is dit ’n verligting dat die Spele uitgestel is, kon hy nie sy teleurstelling verberg nie.

“Ek het gemengde gevoelens oor die uitstel van die Spele,” het hy erken.

“Ek is egter bly dit is uitgestel, aangesien vanjaar onstuimig is.

“Jy kan nie regtig oefen met ál hierdie steurings oor die corona-virus nie.

“Ons moet nou nóg ’n jaar wag. Dit was nie deel van ons planne nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters