3 dae gelede
Pakistan net té sterk
GEFLOUS: Temba Bavuma wonder wat van sy middelpen geword het.  ~ Gallo Images

’N ERG uitgedunde span Proteas het Woensdag op Super­Sport Park die derde en beslissende eendagwedstryd met 28 lopies verloor. Pakistan wen dus die reeks met 2-1.

Temba Bavuma (kaptein) se span moes 321 vir ’n oorwinning jaag en hoewel goeie beurte deur Kyle Verreynne en Andile Phe­hlukwayo hulle in ’n sta­dium hoop gegee het, was die bult uiteindelik net te steil vir die Proteas.

Verreynne (62) en Phe­hlukwayo (54) het ’n vennootskap van 108 om die sesde paaltjie aangeteken nadat Janneman Malan (70) aanvanklik die bal aan die rol gesit het.

Vererger

Hulle het egter nie veel hulp van Aiden Markram (18), Jon Jon Smuts (17), Bavuma (20) en Heinrich Klaasen (4) gekry nie. Dit het beteken die Proteas kon nie veel momentum in die jaagtog opbou nie.

Suid-Afrika was uit die staanspoor onder druk aangesien sy boul-angels Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi almal reeds in Indië is vir die IPL.

Om sake te vererger, moes Rassie van der Dussen hom aan die stryd onttrek weens ’n bobeenbesering.

Smuts het Van der Dussen vervang, terwyl Malan, Verreynne, Lutho Sipamla, Daryn Dupavillon en Beuran Hendricks vir die vyf IPL-spelers (Quinton de Kock en David Miller is die ander twee) ingestaan het. Keshav Maharaj is ook ingesluit ten koste van Tabraiz Shamsi.

Pakistan se aanvangskolwers, Imam-ul-Haq (57) en Fakhar Zaman (101), het die Proteas se tweedekeuse-boulaanval in alle rigtings op SuperSport Park gestraf op pad na hul openingsvennootskap van 112 in 21.2 boulbeurte. Dít nadat Bavuma die loot gewen het.

Leun

Dit was Zaman se tweede honderdtal in drie dae ná sy heldhaftige 193 Sondag op die Wanderers.

Die baanblad het dié slag nie soveel spoed en wip aan die vinnige boulers gebied nie en Bavuma moes swaar leun op die deeltydse draaiers, Markram (2/48 in 10 beurte) en Smuts (1/67 in 8). Maharaj was egter by verre die Proteas se beste bouler met 3/45 in sy toegelate 10 beurte.

Smuts (25) en Phehlukwayo (18) is swaar gestraf in die laaste twee beurte deur Babar Azam (94) en die stertkantkolwer Hasan Ali (32*). Mohammad Nawaz (3/34) was Pakistan se voorste bouler.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters