6 dae gelede
Paarl kry pak
uit my pad! Chevandre van Schoor (met bal) stoot Unie-Milnerton se Elroy Brandt uit die pad in Saterdag se Superliga A-game. Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

DIE lewe in die Westelike Provinsie se Superliga A blyk nie so maklik vir die Paarl-rugbyklub te wees nie.

Hy het Saterdag in die Dal Josaphat-stadion in die Paarl met 29-46 teen Unie-Milnerton vasgeval.

Paarl het sy eerste wedstryd in die top flight teen Brackenfell ook verloor – dit was naelskraap met 17-18.

Volgens Isma-eel Dollie, Unie-Milnerton se afrigter, was dit ’n tough game vir sy span, wat nou met twee seges spog.

Dollie het aan Son verduidelik: “Paarl het sommer uit die staanspoor gewys dat hy wou speel, en ons was aanvanklik met die rug teen die muur.

“Hulle het met commitment en passie gespeel en het ’n paar manne wat die X-faktor het.

STERBELAAI: Godlen Masimla, die voormalige skrumskakel van die Stormers en die Southern Kings, speel nou vir Paarl.

Verras

“Ons het later egter voorlangs begin domineer met ons voorspelers, wat ’n goeie platform vir ons exciting backs gelê het.

“Ek dink tog dat Paarl vanjaar ’n paar spanne in die liga gaan verras, en hulle moet beslis nie onderskat word nie.”

Die voormalige junior Springbok-losskakel meen sy span se uithouvermoë het op die dag aan Minnies die deurslag gegee.

“Ek dink ons fiksheid en kondisionering het vir ons in die laaste 20 minute die knoop deurgehak.

“Manne soos Cheslyn Roberts (senter), Shane Grundlingh (vleuel) en ons voorryman Christo ‘Tiny’ van Wyk het my beïndruk.

“Ek moet ook sê dat die voormalige Stormer- en King-skrumskakel, Godlen Masimla sake vir Paarl met baie goeie taktiese spel dikteer.”

Uitslae:

Superliga A: Brackenfell 27, Victoriane 14; Hamiltons 33, UWK 33; Paarl 29, Unie-Milnerton 46; Primrose 10,Valsbaai 56; SK Walmers 28, Ikeys 36; Tygerberg 38, Villager 7.

Superliga B: Belhar 31, Franschhoek 31; Collegians 31, Macassar 13; Goodwood 37, Young Peoples 17; Helderberg 106, Rangers 8.

Superliga C: Morning Star 3, Hands & Heart 5; Pniel Vil­lagers 22, Strand United 17.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters