15 dae gelede
Paaltjieman wys hy kán
SIERLIK: Rishabh Pant van Indië slaan ’n ses.  ~ Getty Images

INDIË se krieketspan het Maandag ’n onbesliste uitslag teen Australië bewerkstellig

Dit was te danke aan Rishabh Pant, sy paaltjiewagter, se skitterende kolfwerk en die veteraan Cheteshwar Pujara en die gekrokte Ravichandran Ashwin en Hanuma Vihari se hardnekkige verdediging.

Indië het die laaste dag op 98-2 begin, ’n agterstand van 309 lopies. Ajinkya Rahane het vroeg geval; Pujara het hom ingegrawe.

Pant het van meet af onder die Aussie-boulers ingeklim. Hy’t die draaier Nathan Lyon uit die aanval geslaan en geen respek aan die Aussie-naatboulers getoon nie.

Hy het egter een hou te veel gespeel en Lyon het hom op 97 uitgehaal. Hy het net 118 balle trotseer en 12 viere en 3 sesse geslaan.

Pujara het 22 lopies later geval en skielik was die Aussies op pad na ’n oorwinning.

Ashwin en Vihari, wat sy dyspier geskeur het terwyl hy en Pujara gekolf het, het hardnekkig verdedig, al kon hulle weens hul beserings nie tussen die paaltjies hardloop nie.

Met nege boulbeurte oor het Mitchell Starc toe Vihari se buiterand gevind en die bal gestuur na Tim Paine, die paaltjiewagter, wat ’n betreklik maklike vangkans verbrou het. Dit was Paine se derde drop van die dag en waarskynlik die duurste.

Die Aussie-boulers kon daarna nie nog ’n geleentheid skep nie.

Indië het vasgebyt vir ’n ongelooflike onbesliste uitslag wat waarskynlik soos ’n oorwinning gevoel het.

Intussen is Steve Smith wéér in die pekel.

Hy is op kamera betrap waar hy Pant se kolfmerkie met sy spykerskoene uitvee.

Ashwin en Paine het ook op ’n kol woorde gehad. Paine het daarop gesinspeel dat Ashwin se spanmaats nie van hom hou nie,

Ashwin het egter teruggekap deur te kenne te gee dat Paine binnekort sy plek in die Aussie-span sal kwyt wees.

Daar was ook bewerings van rassisme in die toets.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters