9 dae gelede
Özil bly by Arsenal, klaar
Bly in Londen: Mesut Özil sê hy is nog lank nie klaar met die Gunners nie. Foto: gallo images  ~ 

MESUT Özil sê hy gaan nêrens nie en is vasbeslote om die res van sy kontrak met Arsenal uit te dien.

Dis ondanks gerugte dat dié Duitse speler die Gunners sal verlaat.

Arsenal se breier, Unai Emery, het Özil vroeër dié seisoen ’n paar wedstryde uit die span gelaat.

Gerugte het toe ontstaan dat sy tyd by Arsenal verby is.

Daar is gesê Emery wil ontslae raak van hom omdat sy salaris te hoog is en om plek te maak vir nuwe spelers­.

Die Duitser het sy plek in die span sedertdien herwin.

Hy het onlangs in ’n onder­houd ’n onderskeid getref tussen die mening van aanhangers en dié van kenners.

The Mirror het hom aangehaal dat hy aan Sky Sports gesê het: “Ek het twee jaar oor op my kontrak.

Verbintenis

“Ek weet nie wat ek daarna sal doen nie, maar ek bly by Arsenal.”

Özil se agent, Erkut Sogut­, het ook dié aanvallende middelveldspeler se verbintenis tot Arsenal bevestig.

Sogut sê: “Gerugte sal altyd volhard – geen twyfel daaroor nie.

“Maar een ding wat ek kan waarborg, is dat Mesut lojaal is. Hy fokus net op Arsenal.

“Mesut bloei die rooi van Arsenal se kleure. Sy kontrak is ’n sekerheid. Hy sal minstens tot 2021 by Arsenal bly.

“Die ondersteuners hoef nie bekommerd te wees oor die skindernuus oor hom dié somer nie.

“Hy het ’n klub gevind waar hy welkom voel en hy glo hy het nog baie om te bied.” – footballuk.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters