7 dae gelede
Ouetehuis op die grasbaan
Rafael NadalFoto’s: Getty Images  ~ 

DIE wedloop om manstennis se Wimbledon-kroon sal weer ’n wedloop tussen drie bekende perde wees.

Vir die fynproewer raak dit seker al vervelig om die name­ Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer te hoor.

Daar word selfs al gegrap oor hoe dié oupas van die sport sommer tot in hulle silwer jare die Grand Slams gaan oorheers.

Arme John McEnroe kry seker nou baie skaam.

Hy het voor die begin van dié jaar se eerste Grand Slam, die Australiese Ope, nog voorspel een van die jonges gaan die voorste drie opdraande gee.

Ja, hier en daar was match-ups waar die laities die ooms uitgestof het.

Federer (37) se nederlaag teen Stefanos Tsitsipas (20) in Australië en Dominic Thiem (25) se oorrompeling van Djokovic (32) in die onlangse Franse Ope is twee sulke voorbeelde.

Méér hiervan word egter gesoek, want tennis se Slams hunker darem nou al lank na ’n ander naam op die trophies.

Op Wimbledon is daar wel nog ’n grieseltjie hoop dat dit dié jaar kan gebeur.

Die kanse is egter baie skraal dat Roberto Bautista Agut – self aan die ou kant op 31 – vandag vir Djokovic gaan omdop.

In die ander halfiend pak die ou aartsvyande en brasse Federer en Nadal (33) mekaar op Centre Court.

Albei games sal op SuperSport 206 uitgesaai word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters