Verlede maand
Oues en nuwes gaan kook
OPGEWONDE: Edwill van der Merwe en Juarno Augustus gaan die Cheetahs Saterdag in die Cape Town Stadium aandurf.  ~ Ashley Vlotman

DIE Stormers gaan Saterdag ’n kombinasie van opwindende jong talent en gevestigde spelers vir die kragmeting met die Cheetahs inspan.

Die ervare slot Chris van Zyl gaan die span in die Cape Town Stadium teen die Vrystaters aanvoer (afskoptyd: 17:15).

Die game gaan dien as die begin van ’n opwindende nuwe era vir die Stormer met die ikoniese stadion in Groenpunt wat voortaan die tuiste van die Kaapse franchise gaan wees.

Die gesoute haker Scarra Ntubeni gaan in die voorry saam met Ali Vermaak en Neethling Fouché sak.

Van Zyl en David Meihuizen vorm die slotkombinasie, terwyl Juarno Augustus op agtsteman gaan uitdraf. Hy vorm ’n opwindende lostrio-kombinasie saam met die hardwerkende flanke Ben-Jason Dixon en Marcel Theunissen.

Die ervare skrumskakel Godlen Masimla vorm ’n nuwe­ skakelpaar saam met die 19-jarige losskakel Kade Wolhuter.

Cornel Smit en Ruhan Nel gaan in die middelveld ingespan word.

Tristan Leyds beman die laaste vesting, met die vleuels Edwill van der Merwe en Leolin Zas wat die agterste driehoek voltooi.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers, sê daar is baie opgewondenheid in die groep om in die nuwe tuiste uit te draf.

“Ons gaan steeds vir gebiedsvoordeel speel, maar gaan die spelers ook toelaat om hulself op die veld uit te leef,” verduidelik Dobson.

DIE STORMER-SPAN IS: Tristan Leyds, Edwill­ van der Merwe, Ruhan Nel, Cornel Smit, Leolin Zas, Kade Wolhuter, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Ben-Jason Dixon, Marcel Theunissen, Chris van Zyl (kaptein), David Meihuizen, Neethling Fouché, Scarra Ntubeni, Ali Vermaak.

BANK: Chad Solomon, Leon Lyons, Sazi­ Sandi, Johan du Toit, Ernst van Rhyn, Paul de Wet, Abner van Reenen en Mnombo Zwelendaba.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters