5 dae gelede
Oudste Saru-kaptein, Popeye, groet!
d
Ebrahim "Popeye" Rinquest  ~ Adnaan Mohamed

EBRAHIM “Popeye” Rinquest, die oudste Saru-kaptein wat nog gelewe het, is Woensdagoggend in die ouderdom van 88 oorlede.

Die legendariese Rinquest word nie net as een van die beste stutte beskou wat Saru tot nog toe opgelewer het nie, maar hy was veral bekend vir sy puik leierseienskappe.

Die kragman het in sy speeldae vir jare die rugbyklub Hamediehs aangevoer. Hy het die klub tot talle WP-titels gelei.

In 1956 het “Popeye” soos hy alombekend was, as 21-jarige stut vir die eerste keer die WP-span (onder die kapteinskap van Noortjie Khan van Roslyns) verteenwoordig. In 1957 het hy vir die seëvierende WP-span in die Rhodes Cup in Kimberley gespeel en is toe vir die eerste keer vir Saru gekies. In 1965 is hy aangestel as kaptein van die Saru-span.

Die strokieskarakter Popeye was veral bekend vir sy sterk voorarms wanneer hy spinasie geëet het.

Rinquest was nie net bekend vir sy ongelooflike krag nie, maar hy het ook met ’n besondere skrumtegniek gespog. Dit kan waarskynlik wees waar sy bynaam, Popeye, vandaan kom.

Volgens hom is hy dié bynaam gegee oor hoe hy sy een oog toegeknyp het wanneer die son direk in sy gesig geskyn het.

Maar Rinquest se medespelers beskryf hom as ’n baie beskeie persoon. Ander Saru-legendes het die waarheid agter die bynaam onthul.

Die oudspelers sê Rinquest se reputasie as stut was altyd om van meet af sy stempel in die eerste skrum af te druk. Hy het nie net sy opponent fisiek oordonder nie, maar sommer in die eerste skrum met ’n blitsvinnige opstopper gewys wie is baas. En dís waarom hy met die bynaam Popeye gedoop was

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters