8 dae gelede
Oud-Bok maan teen oorgretigheid
bevin fortuin FOTO verskaf  ~ 

DAAR sal sommer nog baie water in die riviere van die Suid-Kaap moet vloei al­vorens klubrugbyspelers enigsins daaraan kan dink om na mededingende rugby terug te keer.

Die oud-Springbok Bevin Fortuin is bly hy kan sy Blanco-klub se spelers terugverwelkom by oefeninge, maar hy is ook versigtig en waarsku teen oorgretigheid.

Hy is katvoet omdat die munisipaliteite nog nie die sportterreine in die Suid-Kaap amptelik oopgestel het nie.

Al het SA Rugby reeds die groen lig gegee vir oefeninge sonder kontak, moet die klubs wag dat die onderskeie munisipaliteite die sportterreine oopstel.

“Dit is een ding om te sê ons kan terugkeer, maar dis ’n heel anderste werklikheid, veral wanneer aandag gegee moet word aan al die protokolle.

“Ek weet amateurrugby het reeds die go-ahead gekry om te begin oefen, maar die klubs moet nog baie dinge in plek kry,” verduidelik Fortuin.

Optimisties

Fortuin het onlangs sy pos as die voorsitter van Blanco prysgegee om weer by afrigting betrokke te raak.

Hy is egter heel optimisties daaroor dat die Suidwestelike Distrikte Rugbyunie reeds oor die Paasnaweek weer rugby sal kan speel.

Fortuin sê Blanco is baie gelukkig dat hy ál sy spelers vir die komende seisoen kon behou.

“Talle spelers het ook aangedui hulle wil by die klub aansluit, maar ons almal weet praat en doen is twee verskillende dinge,” grap hy so ’n bietjie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters