Verlede maand
Ou SA stutte moet stuit
Pierre SchoemanFoto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Bulls sal môreaand 18:15 op Murrayfield in Skotland teen Edinburgh op die wenpad wil bly.

Jake White, afrigter, se span het laas week sy eerste oorwinning in die United Rugby Championship (URC) behaal toe hy Cardiff met 29-19 geklop het. Edinburgh en die Stormers het met 20-20 gelykop gespeel.

Die Lions se oud-losskakel Jaco van der Walt het vir Edinburgh uitgeblink.

Benewens Van der Walt sal die span van Skotland op die ander Suid-Afrikaners in sy span, die stutte Boan Venter en Pierre Schoeman, staatmaak om die Bulls te stuit.

Staal

Voordat Schoeman (27) hom in 2018 by Edinburgh aangesluit het, het hy ál sy rugby vir die Pretorianers gespeel.

Sedert 2018 het die oudleerder van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria in 65 games sy staal in Edinburgh se voorry gewys.

Schoeman se selfvertroue sou vandeesweek ’n groot hupstoot gekry het met die nuus dat hy opgeroep is om hom Sondag by Skotland se oefengroep aan te sluit

Sy spanmaat in die voorry, Venter (24), is van Kimberley en het vir die Cheetahs uitgedraf voordat hy vroeër vanjaar ook na Edinburgh geskuif het.

Die Lions pak Ulster 20:35 vanaand in Ierland, terwyl die Sharks Cardiff môreaand dieselfde tyd in Wallis aandurf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters