13 dae gelede
Ospreys is kwesbaar
Luyolo Dapula  ~ Foto Verskaf

DIE Southern Kings se beste kans om ’n oorwinning oorsee in die Pro14 te behaal, is teen die Ospreys.

Die Kings pak dié Walliese span Saterdag in die Liberty Stadion in Swansea.

Dis in hulle voorlaaste wedstryd van die jaar en hulle is steeds op soek na hulle eerste oorwinning.

Geboelie

Die Ospreys sukkel ook. Hulle het tot dusver nog net een van hulle vyf wedstryde gewen.

Die Kings se vorige teenstanders, die Glasgow War­riors, sukkel ook, en tog het hulle die Baaise span behoorlik geboelie.

Wat statistieke betref, is daar byna geen verskil tussen die twee spanne nie. Die Kings het dié seisoen sover net een drie meer as die Ospreys gedruk.

Die legendariese Bernard Petersen, voormalige Saru Sacos-speler, sê dit gaan weer ’n opdraande stryd vir die Kings wees.

Petersen sê: “Die Kings sukkel en het geen momentum nie.

“As so ’n jong span hoop om gesoute spanne te klop, moet hy besonderse talent hê.

“Sover het ons nog niks gesien wat aandui dat die Kings die talent het om ’n oorwinning te behaal nie.”

Die Kings het nog ’n jong speler gewerf. Hy is die voormalige Cheetah Luyolo Dapula (21).

Dapula, wat in Queenstown gebore is, het ook al die OP verteenwoordig.

Dié flank is vroeër­ in die seisoen vir die Kings gewerf, maar hy kon hom weens sy kontrak nou eers by die span aansluit.

Dapula sal heel moontlik eers beskikbaar wees vir die Kings se laaste wedstryd van die jaar.

Die spanne sal eers môre bekend gemaak word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters