13 dae gelede
Orleans weer KN se tier
Charlton Pietersen(New Orleans)  druk die eerste t
PUNTE! Charlton Pietersen van New Orleans druk sy span se eerste try.  ~ Jonathan Lestrade

DERBY konings!

New Orleans Sekondêr het Saterdag sy hattrick voltooi toe hy Klein Nederburg vir die derde jaar agtereenvolgens geklop het.

Die wedstryd is voor ‘n reuse skare op die Faure Straat-stadion in die Paarl gespeel.

Orleans het die o.19A-wedstryd met 18-0 gewen na hulle met rustyd reeds  10-0 voor was.

Die eerste helfte was maar ‘n stop-start affêre wat gekenmerk was deur talle hanteerfoute aan beide kante. Die losskakel, Aurelio Philander het New Orleans se rekening in die 13de minuut geopen met ‘n strafdoel. Charlton Pietersen, agsteman en kaptein van NO het kort voor rustyd gaan druk ná goeie werk deur die skrumskakel Gilton Mangena. Die drie is deur Philander verdoel.

Philander het in die 45ste minuut New Orleans se voorsprong gerek met nog ‘n starfdoel. KN het daarna gebiedsvoordeel geniet maar kon dit nie in punte omskep nie.

Xavier Ladouce, die plaasvervanger stut, het die kersie op die New Orleans koek gesit toe hy in die doodsnikke oorgebars het vir ‘n drie.

Mangena was deurgaans gevaarlik en is beslis ‘n man wat voortaan dopgehou moet word.

Beide skole verdien vermelding vir die derby produk en het getoon dat hulle beslis kan kers vashou by die interskole van Hoër Jongenskool en Paarl Gimnasium. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters