3 jaar gelede
o.p.-stut tree uit
stut quit: Mediese redes het Charl du Plessis gedwing om rugby te los. Foto: foto24

DIE Oostelike Provinsie-Kings het slegte nuus gekry voor vandag se belang­rike Vodacom­beker-wedstryd teen die Grens-Bulldogs in Oos-Londen.

Die stut Charl du Plessis het ná mediese advies besluit om sy uittrede uit rugby aan te kondig.

Du Plessis (27) sukkel sedert verlede seisoen met ’n rugbesering en het al verskeie mediese oplossings gaan soek.

Konrad von Hagen, die Kings se spandokter, sê Du Plessis het te veel onstabiliteit in sy rug.

“Sou ’n skrum verkeerd gaan, kan dit tot ’n ernstiger besering lei. Daarom het Charl besluit dit is beter om uit te tree,” het Von Hagen verduidelik.”

Oor sy besluit om uit te tree, het Du Plessis gesê: “Dit is een van die moeilikste besluite wat ek moes neem. Ek het my droom uitgeleef. Toe ek ses jaar oud was, het ek begin droom om professionele rugby te speel, maar ek moes ’n besluit oor my gesondheid neem.

“Ek is baie teleurgesteld, maar die lewe is ’n kosbare ding en ek glo God het my ’n tweede kans gegee. Ek wil ook die OP-Kings bedank vir die kans wat hulle my gegee het om rugby te speel en vir hul vertroue in my ver­moëns as ’n speler.”

Du Plessis en sy vrou gaan nou na die Limpopo-provinsie verhuis waar hy ’n nuwe werk as bestuurder van ’n wildreservaat gaan begin.

Die Kings sal vandag se wedstryd ter ere van Du Plessis se bydrae tot die unie speel.

Die Grens-Bulldogs het een verandering aan die beginspan gemaak wat met 0-53 teen die Shark-vyftiental verloor het.

Thembani Mkokeli neem oor as losskakel by Oliver Zono. Zono skuif na die plaasvervangerbank.

Albei spanne is op soek na ’n eerste oorwinning en vuurwerk kan in die BCM-stadion verwag word.

Afskop: 19:10

TV: SS1 en SSHD

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters