12 dae gelede
OP Rugby hou verkiesing
 ~ 

WANNEER die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OP Rugby) binnekort ’n afvaardiging na die volgende groot vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SA Rugby) stuur, kan dit straks met ’n paar nuwe gesigte aan bewind wees.

OP Rugby se verkiesing vind Saterdag plaas, terwyl die SA Rugby-vergadering luidens Rapport vir Dinsdag 11 Mei beplan word.

Vernon Stuurman van Kruisfontein (Humansdorp), sal Andre Rademan, president van OP Rugby, op dié jaar se algemende jaarvergadering om sy posisie uitdaag. 

Son het Dinsdag ’n gelekte lys van benoemdes onder oë gehad.

Rademan is op soek na ’n tweede termyn aan bewind en is boonop op ’n mission om by SA Rugby se volgende vergadering te gaan veg vir die Olifante se deelname aan vanjaar se Curriebeker-Premierliga.

Die Olifante het vroeër vanjaar met klubspelers aan voorbereidingswedstryde deelgeneem en lelik op hul baadjie gekry teen die Bulls, Lions, Griekwas en Cheetahs. Die doel van deelname aan die Curriebeker se Premierliga is sodat OP Rugby ’n groter deel van SA Rugby se befondsing kan ontvang om beter spelers te kontrakteer. Daar sal na bewering op die volgende SA Rugby-vergadering hieroor gestem word. Dié plan kan heel moontlik skipbreuk lei as ’n nuwe afvaardiging dié vergadering bywoon onder ’n nuwe mandaat van die verkose kandidate van rugbyklubs in die streek.

Stuurman is die enigste kandidaat wat sy naam saam met Rademan s’n in die hoed te gooi vir die presidentskap. Die unie se vakante posisies van adjunkpresident en visepresident kan self op ’n interessante wedloop afstuur.

kandidatelys
Skermgreep van kandidatelys

Maasdorp Cannon van Makhanda (Grahamstad) Brumbies, Eben Coltman (Algoa Park RFC) en Willie Blundin (Port Elizabeth Harlequins) gaan sake uitspook om die adjunkpresidentskap. George Malgas (BD Blues) en Henry Jeggels (Aberdeen) se name is in die hoed as kandidate vir visepresidentskap.

Vir die posisie as voorsitter van OP Rugby se menslike hulpbronne en finansies is Alan Grootboom, Mbulelo Gidane en Temba Maseti benoem.

Lorinda Brown, ’n voormalige Springbok-vrouerugbyspeler, is die enigste vroulike kandidaat op die benoemingslys. Sy ding mee om die portefeulje afrigting en ontwikkeling.

Die kandidatelys is:

PRESIDENT:

  • Andre Rademan (Motherwell RFC),
  • Vernon Stuurman (Kruisfontein)

ADJUNKPRESIDENT:

  • Maasdorp Cannon (Makhanda Brumbies),
  • Willie Blundin (Port Elizabeth Harlequins),
  • Eben Coltman (Algoa Park)

VISEPRESIDENT:

  • George Malgas (BD Blues),
  • Henry Jeggels (Aberdeen)

MENSLIKE HULPBRONNE & FINANSIES:

  • Mbulelo Gidane (African Bombers),
  • Alan Grootboom (Algoa Park),
  • Temba Maseti (Swallows Keiga)

PROVINSIALE SAKE: 

  • Tony de Laura (Missionvale),
  • Freddie Makoki (Zwide),
  • Dennis January,
  • Phillip Joseph (Progress)

KLUBSAKE:

  • Phillip Joseph (Progress),
  • Theo Ketchum (Klipplaat United),
  • Freddie Makoki (Zwide)

AFRIGTING & ONTWIKKELING:

  • Lorinda Brown (Middelburg Stormers),
  • Amir Mpayipeli (Spring Rose),
  • Elroy Augustus (Humansdorp United),
  • Maasdorp Cannon (Makhanda Brumbies)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters