7 dae gelede
OP-Olifante wil vertrap op Wolfson
Chumani BooiFoto: Gallo Images  ~ 

DIE Oostelike Provinsie (OP) se rugbyspan wil vanjaar die meeste put uit tuiswedstryde in die Eerste Liga van die Curriebeker-kompetisie.

Die Olifante speel Saterdag in hulle eerste tuiswedstryd teen die Griffons in die Wolfson Stadion in KwaZakhele.

Albei spanne het hulle eerste wedstryd verloor.

Die Griffons is in Welkom deur die nuweling, die Jaguares XV, met 43-50 geklop.

Die Olifante het in Potchefstroom met 12-15 teen die Luiperds les opgesê.

Die OP se afrigter, Chumani Booi, sê: “Die span is gefokus en gereed vir die stryd teen die Griffons.

Inspirasie

“In die spelers se agterkoppe is ons onoorwonne rekord vanjaar in die Wolfson.

“Ons is trots daarop en gebruik daai prestasie as inspirasie in die kamp.”

Die OP-kaptein, Giant Mtyanda, sê hy voorsien dat die Griffons ’n groot aanslag sal lewer.

Mtyanda sê: “Hulle is nooit maklike teenstanders nie, maar ons is opgewasse vir die uitdaging.

“Die manne weet as ons al ons tuiswedstryde wen, bied dit ons ’n goeie kans om die uitspeelrondes te haal.”

Die wedstryd se afskop is 15:00.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters