9 dae gelede
Oorlog om Euro-titel
JAG SUKSES: Paul Pogba en die Franse span sal die Europese kroon by hul World Cup-titel wil voeg.  ~ Getty Images

DIE Europese Kam­pioenskapstoernooi (Euro 2020) is vanjaar nog meer onvoorspelbaar met ’n nuwe formaat wat dinge baie interessant kan laat verloop.

Dié kontinentale sokkertoernooi word gewoonlik in een gasheerland aangebied. Die wedstryde sal vanjaar in 11 Europese stede beslis word.

Die Wembley Stadium in Londen, Engeland, sal gasheer speel vir ’n wedstryd in die Laaste 16, albei halfeindstryde en die eindstryd.

Die kwarteindstryde sal in St. Petersburg (Rusland), Rome (Italië), München (Duitsland) en Baku (Azerbeidjan) aangebied word. Amsterdam (Nederland), Boekarest (Roemenië), Boedapest (Hongarye), Glasgow (Skotland), Kopenhagen (Denemarke) en Sevilla (Spanje) is die ander stede wat ook wedstryde gaan aanbied.

Dié besluit het egter niks met die Covid-19-pandemie te make nie. Uefa, die beheerliggaam van die toernooi, het reeds in 2012 besluit om dit só aan te bied.

Die besluit is gemaak ter viering van dié toernooi se 60ste bestaansjaar.

Euro 2020 moes egter weens Covid-19 ook, soos met die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, tot vanjaar uitgestel word. Dít sou verlede jaar van 12 Junie tot 12 Julie plaasgevind het.

Nietemin is die toernooi nou uiteindelik hier, met verskeie lande wat al vroeg as gunstelinge beskou word.

Frankryk, die huidige wêreldkampioen, sal weer sy spiere wil bult, terwyl ’n sterbelaaide België vasbeslote sal wees om uiteindelik ’n groot titel te wen ná drie jaar as die wêreld se voorste sokkerspan op die wêreldbeheerliggaam, Fifa, se ranglys.

Neerlê

Moet egter nie die Duitse span vlak kyk nie. Die emosies sal hoog loop onder die Mannschaft, wie se jarelange coach, Joachim Löw, ná dié toernooi die tuig neerlê.

Portugal betree Euro 2020 as verdedigende kampioen en is net so sterbelaai. Die vraag is net of groot name soos Bruno Fernandes, Cristiano Ronaldo en Bernardo Silva kan jel om dié titel te behou.

Dan is daar naturlik die Engelse. Gareth Southgate (coach) se span is gelaai met talent, maar dié land se toeskouers sal hard bid deur dat die Three Lions nie weer choke nie.

GROEP A

Italië

Switserland

Turkye

Wallis

GROEP B

België

Denemarke

Finland

Rusland

GROEP C

Oostenryk

Nederland

Noord-Macedonië

Oekraïene

GROEP D

Kroasië

Tsjeggiese Republiek

Engeland

Skotland

GROEP E

Pole

Slowakye

Spanje

Swede

GROEP F

Frankryk

Duitsland

Hongarye

Portugal


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters