4 maande gelede
Ons roer vir die toer
Rassie Erasmus  ~ Gallo Images

RASSIE Erasmus wil bitter graag hê Suid-Afrika moet teen die Britse en Ierse Leeus speel.

Suid-Afrika se direkteur van rugby het Maandag in ’n aanlyn konferensie gesê hy sal enige iets doen om seker te maak die reeks vind plaas.

“Hierdie reeks gebeur net elke 12 jaar. Ek het die verskillende oproepe en menings oor die toer gehoor.

“Hoewel ons vir die welvaart van spelers nie in die Rugby Championship gespeel het nie, was dit ook omdat ons geweet het dat daar in 2021 hierdie groot reeks is.

“As opsie 1, om in Suid-Afrika te speel, nie werk nie, gaan ons na opsie Z om dit te laat gebeur.

“As dit beteken ons moet soontoe gaan om te speel, sal ons daai kant gaan speel. Ons sal enige iets doen om nie die Leeus-reeks te verloor nie.

“Ek wil, Jacques (Nienaber, die Bok-breier) wil, die spelers wil ... So, van ons kant af sal ons enige iets doen.”

Erasmus sê die eerste toets wat hy vir die Bokke gespeel het, was teen die Britse en Ierse Leeus. Dit was in die laaste toets van die reeks in 1997.

“Ek weet hoe spesiaal dit was. Daar is een of twee spelers wat hul uittrede uitgestel het net om teen hulle te speel. As ons hierdie boot mis, gaan van die spelers nie weer die geleentheid kry nie.”

Erasmus glo dus daar is baie redes dat die reeks moet plaasvind.

“Dis ’n eer om teen hulle te speel nadat jy ’n World Cup gewen het. En om teen ’n span te speel wat uit vier lande saamgestel is, sal altyd vir ons as ’n land ’n groot inspuiting wees.

“Dit het ook kommersiële waarde vir ons as ’n rugbyfederasie. Baie mense sal finansieel daarby baat vind,” sê hy.

Benewens die feit dat Erasmus opgesaal is met die taak om oplossings te vind vir probleme en om rugby in die Reënboognasie aan die gang te hou, het hy en sy familie ook persoonlik met Covid-19 geworstel.

“Ek moet sê ek was nogal nervous toe ek uitvind ek is positief getoets omdat ek ’n onderliggende siekte het.

Reuksin

“So, ek was baie senuagtig daaroor. Ons hele huisgesin het dit gehad,” vertel hy oor hul Covid-19-ervaring.

“Die kinders het nie baie simptome getoon nie. Hul smaak- en reuksin was weg, maar ek en my vrou het dit redelik ernstig gehad.

“Dit speel die hele tyd met ’n ou se kop.

“Ek dink van dag nege af was dit vyf dae erg.

“Ek is nou op dag 23 en het net ’n bietjie kopseer, maar dit is nie naastenby so ernstig soos wat baie ander mense dit ervaar het nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters