5 maande gelede
Ons is optimisties – Ul-Hag
tops: Temba Bavuma spog met die meeste lopies in die toetsreeks teen Pakistan.Foto: gallo images  ~ 

DIE Suid-Afrikaanse krieketspan se diepte aan kolwers sal in die laaste toets teen Paki­stan deeglik getoets word.

Suid-Afrika het die reeks reeds beklink deur die eerste twee toetse te wen.

Pakistan gaan egter nie laat slap lê in die derde toets nie. Dit begin vandag op die Wanderers in Johannesburg.

Die Proteas sal sonder hulle kaptein, Faf du Plessis­, dalk kwesbaar in die middelorde wees.

Du Plessis is vir dié toets geskors oor hy ’n trae boultempo in die tweede toets in Kaapstad gehandhaaf het.

Pakistan se afrigter, die Suid-Afrikaner Mickey­ Arthur­, is desperaat om enige­ moontlike swak punt van die Proteas uit te buit.

Arthur het laat deur­skemer dat hy met ’n vyfde spesialis-bouler ten koste van ’n kolwer wil waag om die tuisspan se kolwers onder­ druk te plaas.

Hoewel Aiden Markram en Hashim Amla fiks verklaar is, het hulle las van skete in die tweede toets gehad.

Hulle sal dalk nie op hul beste wees nie, en boonop is Theunis de Bruyn ook nie op dreef nie.

Zubayr Hamza maak sy toets­debuut in die middelorde, en Pakistan sal sy gebrek aan ervaring wil uitbuit.

Dit maak die waarnemende kaptein, Dean Elgar, en die buksie Temba Bavuma se rolle in die Proteas se kolfplanne nóg vernamer.

Elgar sal moet open op ’n blad wat die boulers gunstig behoort te wees. Bavuma se kolfwerk hou egter die sleutel­ tot nóg ’n sege.

Hy is die span se voorste lopiemaker in die reeks en sal die middelorde nou moet anker.

Bewys

Pakistan sal egter vir genoeg lopies teen die Proteas se sterk naataanval moet sorg om te wen.

Die span se aanvangs­kolwer Imam-ul-Haq sê: “Ons het die reeks verloor, maar het steeds iets om te bewys.

“Ons is optimisties en wil seker maak dat ál ons harde werk voor en op die toer nie verniet was nie.

“Suid-Afrika boul baie goed. Ons weet ons sal op ons beste moet wees en geestelik sterk.”

) TV-uitsending: 10:00 op SuperSport2 en SABC3.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters