5 dae gelede
Old Lady-sterre hups vir Ajax game
gereed: Cristiano Ronaldo (links) en Juventus se ander sterre is uitgerus vir Ajax. Foto’s: gallo images  ~ 

MOISE Kean (19) in Juventus se beginspan.

Dís die oorweging waarmee die manager van die Bianconeri, Massimiliano Allegri, worstel. Vanaand vind die belangrike Uefa Champions League-kwarteindstryd teen Ajax Amsterdam plaas.

Die spanne pak mekaar 20:50 in die tweede been van hulle kwarteindronde in die Allianz-stadion.

Die telling ná die eerste been in Amsterdam was 1-1. Cristiano Ronaldo het vir die Old Lady gescore.

David Nerez het Ajax se doel aangeteken.

Ronaldo het ’n ruskans gehad vir Saterdag se Serie A-wedstryd teen Spal.

Mario Mandzukic het ook ’n blaaskans gekry.

Teen Spal het Allegri baie veranderinge gemaak. Dit het egter uitgeloop op ’n skok­nederlaag met 1-2.

Die breier het natuurlik vandag se tweede been teen Ajax in Turyn in gedagte gehou.

Dit is slegte nuus vir Ajax, wat nou met ’n uitgeruste Ronaldo en Mandzukic te doen gaan kry.

Nog slegte nuus vir Ajax is dat sy sterspeler, Frenkie de Jong, dalk die wedstryd sal misloop. Hy is beseer in Saterdag se Eredivisie-wedstryd teen Excelsior.

Die Ajax-breier, Erik ten Hag, het probeer om De Jong se besering as ’n voorsorgmaatreël af te speel – al moes die speler van die veld gedra word. – goal.­com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters