2 maande gelede
OC is Sedru-kampioen
kampioene: Old Collegians se kaptein, Xabiso Moni, ontvang die trofee nadat sy span die OPRU se Sedru-klubliga gewen het.Foto: Chesley Daniels  ~ 

OLD Collegians (OC) van Grahamstad is die nuwe kampioen van die Oostelike Provinsie-Rugbyunie (OPRU) se Sedru-klubliga.

Die Old Boys het Kowie United Saterdag met 17-14 op die Rhodes-Universiteit se hoofveld geklop.

Die reën en koue wat die Oos-Kaap getref het, het egter nie die eindstryd ge­affekteer nie.

OC het soos verwag ’n hoë tempo gehandhaaf, en dít het Kowie onder groot druk geplaas.

Kowie se groot voorspelers is gewoonlik aan die brand, maar in dié wedstryd was hulle taamlik stil.

Kowie het ook baie geleenthede om punte aan te teken, verbrou weens on­gedwonge foute.

OC, daarenteen, het sy geleenthede benut, veral met sy vlugvoetige agterlyn.

In die eerste helfte het Siyamthanda Wamba (flank) OC se enigste drie van die wedstryd gedruk.

Geslaag

Kowie se sterk senter Daine­ Ruiters het ’n pragdrie gedruk.

Siyabonga Mahapi (losskakel) het drie strafdoele vir OC oor geskop. Mason Brooks (heelagter) het met ’n strafdoel geslaag.

Dít het die rustydtelling op 14-8 in OC se guns gelaat.

Spel in die tweede helfte was kliphard. Albei spanne was duidelik gretig om die trofee te lig.

Kowie het met ál meer selfvertroue gespeel en dinge het beter vir hom begin lyk.

Brooks het Kowie in die prentjie gehou deur twee strafdoele aan te teken (14-14­).

Die laaste tien minute was baie spannend. Net OC se goeie verdediging het hom onderskei.

OC is enkele minute voor die eindfluitjie ’n strafskop 35 m van die pale toegeken.

Weer het Mahapi se dodelike skopskoen die praatwerk gedoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters