13 dae gelede
Nuwe twis oor Benni
GEDUGTE SPAN: Benni McCarthy (middel) en sy coaches, Moeneeb Josephs (links) en Vasili Manousakis.  ~ Backpagepix

BENNI McCarthy se kans om die droom-afrigtingspos van Bafana Bafana te kry, kan deur mislukte onderhandelinge tussen die Suid-Afrikaanse sokkerbase en sy agent, Rob Moore, gekelder word.

Son verneem Safa en Moore kon gister nog nie tot ’n vergelyk kom nie en die kanse is sterk dat die beheerliggaam McCarthy nou ’n rooi kaart gaan wys.

Daar is reeds sprake dat Safa nou hard begin vry het na Hugo Broos, Kameroen se voormalige Belgiese afrigter. Safa het glo reeds €70 000 (sowat R1,2 miljoen) op die tafel gesit om Broos te probeer lok.

Dit sal ’n reuse-terugslag vir McCarthy (en SA sokker) wees as dié boorling van Hanover Park op die Cape Flats nie die pos kry nie.

Hy is ’n groot gunsteling onder SA sokker-fans en het AmaZulu met dawerende sukses tot die top-posisie in die Premier­liga gelei.

Die aankondiging van die nuwe SA afrigter sou reeds Saterdag plaasgevind het, met McCarthy wat die groot gunsteling was.

Die een haakplek was met Sandile Zungu, AmaZulu se voorsitter, wat McCarthy nie wou laat gaan nie. Hy’t geworry dat AmaZulu, met net drie ligawedstryde oor, sy momen­tum in die PSL kan verloor as McCarthy en sy tegniese span nou moes padgee.

McCarthy (43) se agent het onlangs met Safa vergader. Volgens ’n betroubare bron het Moore se voorwaardes vir die aanskaffing van McCarthy se dienste deur Safa egter die skape deurmekaar gejaag. Moore het laat blyk hy soek minstens R10 miljoen.

Volgens die agent sou Safa­ bereid wees om iemand soos die Portugees Carlos Queiroz dieselfde soort aanbod te maak.

Moore eis ook die gesoute TV-kommentator Mark Gleeson moet Bafana Bafana se spanbestuurder word.

Braak

Dis nie waar Moore stop nie. Hy wil ook hê Lance Davids, voormalige Ajax Cape Town-midfielder, moet die nasionale span se internasionale scout word.

Dit het McCarthy glo laat gal braak oor hy môre as nuwe coach onthul sou word.

Safa het boonop reeds Vrydag die SA legende se voorwaardes aanvaar. Dit behels dat McCarthy eers die seisoen met AmaZulu, wat in die wedloop is vir die Premierliga-titel, sou afsluit. Hy sal ook sy tegniese span by AmaZulu kan saambring na die nasionale span.

Dominic Chihamvi, Safa se hoof-mediabeampte, het gister teen druktyd nog nie op Son se navrae reageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters