14 dae gelede
Nuwe Kings kry kans
REG VIR AKSIE: Luyolo Dapula hard aan die slyp.  ~ Foto Verskaf

DIE Southern Kings gaan nie net mik vir hulle tweede Pro14-oorwinning op hulle huidige toer van Europa nie, hulle gaan ook nuwe spelers kans gee.

Die Kings se breier, Robbi Kempson, twyfel nie dat dinge weer baie moeilik op toer gaan wees nie, maar glo dat van sy nuwe spelers ’n groot impak kan maak.

Munster

Die span het reeds Maandag vertrek en Dinsdag in Ierland aangekom.

Dít was voor hulle wedstryd môre-aand teen die Ierse span Munster op Musgrave Park.

Dit sal volgende week gevolg word deur ’n ontmoeting met die Walliese span Scarlets.

In die toergroep van 27 spelers is die losvoorspeler Luyolo Dapula en die agterspeler Edmund Ludick­ twee manne wat moontlik hulle­ debuut kan maak.

“Ouens soos Dapula en Ludick verdien hulle geleent­hede,” het Kempson gesê.

“Dit is wonderlik om te sien hoe Dapula gegroei het sedert hy hom (van die Cheetahs af) by ons aangesluit het. Hy werk en oefen buitengewoon hard en sit baie moeite in. Hy is van nature ’n vegter.

“As hy sy geleentheid kry, sal hy die beste daarvan maak.”

Dapula het voorheen die OP Olifante verteenwoordig voordat hy na die Cheetahs vertrek het.

Kempson sê dié spelers is die toekoms van die Kings.

Die Kings het dié week ’n bye (loslootjie) gehad ná twee taai nederlae in ’n ry teen die Cheetahs.

Volgens Kempson was die break nét wat die span nodig gehad het.

“Dit was regtig die perfekte tydsberekening ná die twee wedstryde teen die Cheetahs. Daar was talle bumps en bruises, en ongelukkig een of twee ernstige beserings.

“Ons het twee baie moeilike wedstryde. Munster sal altyd moeilik wees. Ons het ’n kans gestaan toe hulle in SA gespeel het. Miskien kan ons in Cork beter doen.

Swakhede

“Scarlets sal nóg moeiliker wees. Brad Mooar is ’n besonderse afrigter wat ongelooflike werk met die span gedoen het, veral toe sy spelers by die Wêreld­beker-toernooi was. Hulle het nie baie swakhede nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters