Verlede maand
Nuwe era vir Stormers
SKOUSPELAGTIG: Die Cape Town Stadium is voortaan die Stormers se nuwe tuiste.  ~ Gallo Images

MET die skuif na die Cape Town Stadium wil John Dobson, breier van die Stormers, die nuwe era betree deur die voorbereidingsreeks te gebruik as ’n kans om na sy groep se diepte te kyk.

En dit gaan alles môre teen die Cheetahs in die Kapenaars se nuwe tuiste in die hartjie van die Moederstad begin.

Dobson het besluit om die meerderheid van sy span met tweedekeuse-spelers te laai.

Gros

Die enigste Springbok in die groep is die ervare haker Scarra Ntubeni wat ook maar net een toets agter sy naam het.

Die hoog aangeskrewe agtsteman Juarno Augustus is waarskynlik die enigste speler wat normaalweg in die begin-vyftiental sal wees.

Agterlangs sal die Stormers op die ervaring van die buitesenter Ruhan Nel staatmaak. Daar’s egter ’n gros talentvolle jong spelers, soos die 19-jarige losskakel Kade Wolhuter en die heelagter Tristan Leyds, wat beslis die vermoë het om opwindende rugby op te dis.

Die afrigter het vandeesweek aan Son die versekering gegee dat terwyl sy span nie van sy sterk punte sal afwyk nie, sy spelskeppers meer vryheid gaan kry om die situasie te speel.

“Die verantwoordelike ding om te doen is om gereed te wees vir Pro16, waar ons genoop sal wees om vir gebiedsvoordeel te speel.

“Ons volgende stap is nou om rugby te speel wat by die span se DNA pas. Ons wil graag meer aanvallende rugby speel en die spelers bemagtig.

“Miskien was ons in die laaste kompetisie te voorskriftelik oor die gebiede op die veld waar ons graag wil speel.

“Dit gaan nou meer gaan oor Tristan Leyds, Kade Wolhuter, Timmy (Swiel) – as hy speel – en Damian (Willemse) om hul eie besluite te neem.

“Met ons opwindende talent wil ons ’n meer vloeiende game speel.”

Intussen het die Cheetahs se breier, Hawies Fourie, sy sterkste moontlike span gekies.

Die gesoute Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar het van sy besering herstel en is op die bank ingesluit.

Kragmeting

Die tweemalige World Cup-wenner Frans Steyn gaan op binnesenter uitdraf. Schalk Ferreira, ’n voormalige Southern Kings-staatmaker, en Rynier Bernardo is in ook die beginspan.

Die voorbereidingsreeks skop vandag af met ’n kragmeting tussen die Lions en Pumas van 19:00 in Johannesburg.

Agt plaaslike unies gaan mekaar tot 28 Maart in vier games elk (twee tuis, twee weg) die stryd aansê.

STORMERS Tristan Leyds, Edwill van der Merwe, Ruhan Nel, Cornel Smit, Leolin Zas, Kade Wolhuter, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Ben-Jason Dixon, Marcel Theunissen, Chris van Zyl (k), David Meihuizen, Neethling Fouché, Scarra Ntubeni, Ali Vermaak. BANK: Chad Solomon, Leon Lyons, Sazi Sandi, Johan du Toit, Ernst van Rhyn, Paul de Wet, Abner van Reenen, Mnombo Zwelendaba.

CHEETAHS - Clayton Blommetjies, Duncan Saal, Chris Smit, Frans Steyn, Rosko Specman, Reinhardt Fortuin, Tian Meyer, Jeandré Rudolph, George Cronjé, Andisa Ntsila, Rynier Bernardo, Carl Wegner, Aranos Coetzee, Wilmar Arnoldi, Schalk Ferreira. BANK: Marnus van der Merwe, Conraad van Vuuren, Khutha Mchunu, Victor Sekekete, Aidon Davis, Ruan Pienaar, Dries Swanepoel, Rhyno Smith.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters