3 maande gelede
‘Nuwe’ Chippa teen ‘ou’ Sundowns
systap: Lerato Manzini (regs) van Chippa probeer die Stellenbosch-verdedigers klop. Foto: gallo images  ~ 

DIE Chilli Boys is gereed om vandag hulle eerste oorwinning in die Premier-sokkerliga (PSL) dié seisoen te behaal.

Chippa United speel teen Mamelodi Sundowns in die Nelson Mandelabaai Stadion (NMS).

Chippa se breier, Clinton Larsen, sê dit skrik hulle glad nie af dat Sundowns die PSL-kampioen is nie.

Larsen sê hulle is gereed om Sundowns te pak en voeg by: “Ons het hulle verlede seisoen geklop.”

Maar wanneer ’n mens die statistieke tussen die twee spanne vergelyk, is die syfers nie in die Oos-Kaapse span se guns nie.

Sedert die twee kragte begin meet het in die PSL, het Sundowns sover 7 van die 12 wedstryde gewen; die ander 5 het gelykop geëindig.

Die Chippa-breier voel egter sy span het baie verander ná verlede seisoen.

Weet

Daarteenoor dink hy die Sundowns-span het nie veel verander nie en sal dus nie te veel van ’n verrassing wees nie.

Larsen sê: “Ons weet presies wat hulle kan lewer; ons moet net weerstand bied daarteen.

“Daar is egter nooit iets soos ’n maklike wedstryd teen Sundowns nie.”

Sundowns is dalk wel gewond nadat hulle hul wedstryd in die eerste ronde van die Caf Champions League met 1-2 verloor het teen die Kongolese span Otoho d’Oyo.

Anders as Sundowns kort die Chilli Boys ook ’n goeie vertoning.

Dis omdat hulle in hulle eerste PSL-wedstryd gelykop (0-0) gespeel het teen Stellenbosch FC in die NMS.

Chippa het toe goed gespeel, maar weereens gesukkel om geleenthede te benut.

As die Chilli Boys dieselfde foute maak teen Sundowns, is dit dalk net nie hulle dag nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters