9 dae gelede
‘Nuwe begin’ vir Australiese rugby
Mark NawaqanitawaseFoto: getty Images  ~ 

DIE afskop van Australië se plaaslike weergawe van Superrugby dié naweek word as ’n nuwe hoofstuk in die Wallabies se herlewing beskou.

Die Reds pak die Waratahs Vrydag in die Suncorp Stadium in Brisbane terwyl die Brumbies die Rebels in Canberra aandurf.

Met die Aussies se Superrugby-spanne en hul nasionale span wat die laaste tyd gesukkel het, gaan baie van die Superrugbyspanne op hulle opkomende jong sterre wil staatmaak.

Terwyl Michael Cheika, die voormalige Wallaby-breier, se senior rugbyspan in die Bledisloe Cup deur die All Blacks verneder is, het die Junior Wallabies laas jaar die Baby Blacks met 24-0 ore aangesit.

Baie van dié nuwe generasie jong spelers sal hierdie Superrugby-kompetisie wil gebruik om Dave­ Rennie, die Wallabies se nuwe coach, te beïndruk.

Die Waratahs spog byvoorbeeld met die dienste van die atletiese Mark Nawaqanitawase, wat ewe gevaarlik op heelagter en vleuel vertoon. Die span van Sydney sal ook sy jong losskakel Will Harrison die geleentheid wil gee om sy stempel af te druk.

Vergelyk

Die Reds se jong nr. 10, Isaac Lucas, kan ook sterk na vore tree. Kenners vergelyk Lucas met die All Blacks en Chiefs se blitsbuks, Damian McKenzie, terwyl Harrison bekend is vir sy taktiese vernuf met die skopstewel.

Daar word ook baie verwag van die Brumbies se jong slot Darcy Swain.

Hy kan voortaan dieselfde rol vervul van die Wallabies se slot Rory Arnold, wat besluit het om sy rugbyloopbaan in Frankryk voort te sit.

Angus Bell, die jong loskopstut van die Waratahs, word met ’n speler soos Wyatt Crocket van die Crusaders en All Blacks vergelyk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters