11 dae gelede
‘Nou vir die halfeind’
John Dobson  ~ Gallo Images

DIE Westelike Provinsie gaan nou ál sy aandag fokus op die Curriebeker-halfeindstryd teen die Sharks op Nuweland.

Ná die kansellasie – weens Covid-19-protokolle – van hul laaste liga-wedstryd wat Saterdag ook teen die span van Durban op Nuweland sou plaasvind, het die Streeptruie in die tweede plek op die puntelys geëindig.

Hoewel daar dié naweek nog twee wedstryde gespeel moet word, sal dié stryde geen impak hê op die finale posisies van die spanne in die topvier nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) moet nog die besonderhede van die halfeindstryd bekend maak. Dit sal ná die finale ligastryde dié naweek wees.

John Dobson, afrigter van die WP, sê hy was gefrustreerd oor die ontwrigting wat die jongste kansellasie veroorsaak het. Hy het egter bygevoeg sy span sal nou daarop fokus om alles moontlik te doen om te verseker dat hy op sy beste is vir sy halfeindstryd.

“Hoewel dit baie teleurstellend is dat ons game dié naweek afgestel word, eerbiedig ons die regulasies en die noodsaaklikheid om almal se veiligheid eerste te stel.

“Ons weet nou dat ons in ons halfeindronde teen die Sharks gaan speel.

“Ons fokus is dus om te verseker dat ons so goed as moontlik voorbereid is vir die uitdaging,” het Dobson verduidelik.

Fans

Gegewe die huidige onsekerheid rondom die Covid-19-situasie in die land, sal Dobson wag op die amptelike bevestiging van die datum, tyd en plek van hul halfeindronde.

“Nadat ons in die tweede posisie geëindig het, beteken dit baie vir ons span en inderdaad vir ons fans dat ons die halfeindstryd op Nuweland sal kan speel.

“Ons weet dat dit buitengewone tye is, maar ons bly hoop dat ons steeds die kans sal kry om in ’n Curriebeker-uitspeelwedstryd in die beroemde blou-en-wit trui in die stadion uit te draf. Nuweland het ’n spesiale plek in die hart van almal wat rugby in Suid-Afrika gekyk en ondersteun het,” het hy gesê.

Dobson het die spelers en bestuur van die Sharks sterkte toegewens in hul pogings om die gevolge van Covid-19 in hul kamp te beperk.

“ ’n Curriebeker-halfeindstryd tussen die WP en die Sharks gaan ’n ware skouspel wees. Ons hoop dat ons teenstanders vinnig kan herstel sodat ons net kan fokus op die rugby,” het hy gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters