13 dae gelede
Nóú dans die poppe in SA boks
Andre Thysse  ~ Verskaf

DIE vet is nou behoorlik in die vuur in die vete tussen Jackie Brice-promosies, die Gautengse promotor André Thysse en Boks Suid-Afrika (BSA).

Thysse was op sy dag een van die beste boksers in die wêreld in sy gewigsafdeling.

Dit het nou aan die lig gekom dat BSA se waar­nemende CEO, Cindy Nkomo, Thysse skuldig bevind het omdat hy geweier het om die perseel te verlaat tydens Brice se toernooi in Desember in die Kaap.

Een van sy boksers was by dié toernooi in aksie.

Nadat Thysse op eie onkoste Kaap toe gekom het en geen vervoer daar gehad het nie, het Nkomo hom aangesê om die perseel te verlaat “omdat hy nie direk betrokke was” by die bokser nie.

Grap

Die eienaar van ’n huis aangrensend aan die saal het Thysse toe na sy huis genooi om die boks in sy sitkamer op TV te volg.

Dat Thysse daarvoor skuldig bevind is, wys duidelik moedswilligheid aan die kant van BSA en dat daar duidelik ’n vete teen Thysse gevoer word.

Promotors landwyd beskou dié belaglike stap as ’n grap en yslike verleentheid vir BSA.

Thysse het intussen aangedui hy gaan die saak nie daar laat nie en dit met BSA se voorsitter, Lu­thando Jack, opneem.

Brice het intussen ook ’n saak teen Nkomo by die polisie aanhangig gemaak omdat sy by die Desember-toernooi Covid-maatreëls verontagsaam het.

Sy het byvoorbeeld sonder ’n masker langs die kryt gesit op ’n foto wat in Son gepubliseer is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters