8 dae gelede
Nortjé se boulwerk is aan die brand
Anrich NortjÉ Foto: gallo images  ~ 

DIE voormalige Madibaz-krieketspeler Anrich Nortjé gaan die wêreld nog aan die brand boul.

So sê Basheer Walters, die naatbouler se spanmaat by die Warriors.

“Ek dink Nortjé is een van die bestes in die land en as hy so aanhou, gaan hy nog baie goeie dinge bereik,” het Walters gesê.

’n Verdere bewys van Nortjé (25) se klas as ’n toekomstige ster is die feit dat hy een van min die Suid-Afrikaners is wat ’n kontrak by ’n Indiese Premierliga-span (IPL) beklink het.

Die Baaienaar en BCom-student aan die Nelson Mandela-Universiteit gaan in die komende IPL-seisoen vir die Kolkata Knight Riders diens doen.

Dit is alles te danke aan Nortjé se goeie vertonings gedurende Suid-Afrika se eie spoggerige T20-reeks, die Mzansi Super League.

Nortjé het vir die Cape Town Blitz gespeel en was dit nie vir ’n besering nie, het hy dalk die toernooi as die bouler met die meeste paaltjies afgesluit.

Sy teenwoordigheid in die Blitz se aanval is ook kwaai gemis toe die Kapenaars in die eindstryd teen die Jozi Stars verloor het.

Gelukkig is Nortjé nou weer perdfris en gesond om vir die Warriors paaltjies in te oes. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters