14 dae gelede
Noord-Suid-derby kom

’N KRAGMETING tussen die voorste Suid-Afrikaanse rugbyspelers van die Noorde en Suide.

Dít is wat op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se spyskaart is.

Son het gister betroubaar verneem dat dié wedstryd straks op 3 Oktober op Nuweland gespeel gaan word.

Formaat

Die konsep word geskoei op die kragmeting wat onlangs tussen die Noord- en Suid-eiland in Wellington in Nieu-Seeland plaasgevind het.

Die wedstryd, wat baie groot belangstelling sal lok, kan die formaat aanneem van ’n span saamgestel uit die beste spelers van die binnelandse unies teen ’n span van die top-spelers uit die unies wat aan die kus gesetel is.

Een kriterium vir spankeuses kan ook berus op waar die spelers oorspronklik vandaan kom.

Op 26 September word ’n Marvel Superhero-rugbydag aangebied. Vier SA franchises, die Stormers en Lions­, en Sharks en Bulls sal mekaar op Loftus Versfeld in Pretoria aandurf.

Die game tussen die Stormers (Thor) en Lions (Spiderman) sal dien as ’n voorwedstryd vir die krag­meting tussen die Bulls (Captain America) en die Sharks (Black Panther).

Die daaropvolgende week sal die Noord-Suid-krag­meting, wat deur Saru gereël word, plaasvind.

Dit is nog nie bevestig of die wedstryd op Nuweland gaan plaasvind nie, maar in dié stadium lyk dit asof Kaapstad in die binnebaan is om die game in die skaduwee van Tafelberg aan te bied.

Dis aangesien die Superhero-wedstryde in die Jakarandastad gespeel gaan word.

Die kragmeting tussen die Noorde en Suide gaan nie net baie belangstelling lok nie, maar dit sal ook dien as proewe vir die Bok-bestuurspan.

Die wedstryd sal sy lede die geleentheid bied om van die land se voorste spelers van nader te bekyk.

Die spanne kan deur Siya Kolisi (Suid) en Duane Vermeulen (Noord) aangevoer word.

Dit gaan ook as ’n broodnodige inkomstestroom vir Saru dien, veral omdat dit uitsaaiers ’n geleentheid bied om rugby regstreeks op die kassie uit te saai.

Weens die Covid-19-pandemie is vanjaar ook nog nie behoorlik afskeid geneem van Nuweland nie.

Volgens Son se inligting skop ’n kompetisie soortgelyk aan die Curriebeker-toernooi op 10 Oktober af.

Besluit

’n Span soos die Westelike Provinsie of die Stormers sal dus só ’n geleentheid wil aangryp om op ’n geskikte wyse tot siens te sê vir Nuweland.

Daar is reeds besluit dat rugby in die Kaap van volgende jaar af in die Cape Town Stadium gespeel gaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters