6 maande gelede
Nog lede van raad bedank
Zelt Marais  ~ Gallo Images

DIE Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) se sakevleuel het nou nóg vakante posisies in sy raad om te vul.

Hennie Heymans en Suzanne Stevens is die nuutste raadslede wat uit hul posisie in die sakevleuel bedank.

Dié twee se bedanking sal skokgolwe deur die unie stuur, aangesien hulle twee van die unie se groot borge in die raad verteenwoordig het.

Opvlam

Heymans is werksaam vir die unie se hoofborg, DHL. Stevens verteenwoordig Brightrock.

Dié verwikkeling sal vrese binne die unie en veral in klubrugbygeledere laat opvlam dat die WPRVU sy borge kan verloor en hom in ’n verdere geldelike verknorsing kan bevind.

Daar word verwag dat Zelt Marais, president van die WPRVU, vandag meer klaarheid rondom Heymans en Stevens se bedanking sal gee.

Marais en die sakevleuel se nuwe voorsitter, Ebrahim Rasool, wou nie gister kommentaar lewer oor Heymans en Stevens se bedanking nie.

’n Virtuele nuuskonferensie word vir vandag 13:00 beplan waarin kommentaar oor die bedankings verskaf gaan word.

Netwerk24 het gister berig die bedankings het te make met onderhandelinge tussen die unie se sakevleuel en die Amerikaanse maatskappy MVM Hold­ings oor die koop van 51% se aandele.

MVM Holdings wil nagenoeg R100 miljoen vir dié aandele betaal en met die 51% volle beheer hê oor besluitneming binne die unie.

Die WPRVU se amateur-arm en 100% van die aandeelhouers in die sakevleuel is luidens Son se inligting egter nie te vinde vir so ’n aanbod nie.

MVM Holdings het na bewering sy aanbod verbeter met ’n maandelikse fooi van R1 500 vir klubs verbonde aan die WPRVU.

Maar volgens klubs wat nie groot borge kan bekom nie, is dié bedrag nie eens ’n druppel in die emmer nie, want dit sal nie ’n verskil in die dag-tot-dag-bestuur maak nie.

Sommige klubs genereer meer geld net met hekgelde vir tuiswedstryde.

Besluit

Vroeër die jaar het Kevin Kiewits as raadslid bedank.

André van der Veen en Johan van der Merwe se termyn in die sakevleuel het tot ’n einde gekom en daar is besluit om dit nie te hernu nie.

Van der Merwe was die voorsitter van die sakevleuel voordat Rasool tot hierdie posisie verkies is.

Raymond van Niekerk het ook onlangs bedank.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters