3 maande gelede
No Payne, no gain
Neven Payne  ~ Jonathan Lestrade

NEVEN Payne is reeds op net 17 – toe hy net sy pro career begin het – as ’n pyn in die nek gedoop.

Dít vir die manier hoe hy sy teenstanders op die speelveld gefnuik en die teenstander-goalies se hande warm geskop het.

Dis net ’n jammerte die geskiedenis, rekords en prestasies van dié 55-jarige IT-spesialis vir die Stad Kaapstad is nie juis opgeteken nie.

Vandag se oupas, oumas, ooms en tantes, maar ook Suid-Afrikaanse legendes soos Jomo Sono, Doctor Khumalo, Marks Maponyane, Neil Tovey, Lucas Radebe, Ace Ntsoelengoe en Mark Fish sal egter beslis van Payne­ se vernuf en bekwaamheid as sokkerspeler kan vertel.

Diegene wat al paaie gekruis het met die destydse woelwater midfielder van Santos, Hellenic en Cape Town Celtic, sal kan getuig dat hy ongetwyfeld een van die aangenaamste sport­figure is wat die beautiful game nog opgelewer het – saggeaard, voorbeeldig en skamerig.

Bedeling

Dié karaktertrekke van Payne is egter oorskadu wanneer dié boorling van Heideveld die sokkerveld betree het. Sien, dit was op die speelveld waar dié midfielder met ’n oog vir doele regtig in die hart van die Kaapse sokkerliefhebbers ingekruip het.

Veral in ’n tydperk van onrus en ongeregtigheid in die ou bedeling – dis waar Payne se talente en liefde vir sokker meer betekenis aan sy Kaapse fans besorg het.

“Veral as ons ’n derby gewen het, het jy nie gehuiwer om na die winkels te gaan nie,” het die voormalige leerder aan Cathkin Hoër gesê.

“En destyds het al die coloureds mos by KC gaan shop. Almal wou ’n stukkie van jou hê.

“Ek moes oblige en engage omdat hulle die mense was wat hul laaste geldjies sal gebruik om jou te kom watch speel en waardeer.

“Hulle sal jou ook in die pad voorkeer en lank gesels oor ’n game en hoe hulle dit geniet het.

“Maar as ons verloor het, was dit ’n heel ander storie. Jy het eintlik sleg gevoel, want jy het jou mense so te sê gedrop.

“Dis waarom jy nie eintlik gewaag het om buite te wees of winkel toe te gaan nie.

“Daai connection met die fans was altyd daar,” vertel hy verder.

“Ek onthou as ek op pad na die veld was vir ’n derby, soos Santos teen Glendene, sien jy hoe ywerig en begeesterd die fans na die veld stap om hul helde en klub te ondersteun.

“Dit was ook waar die ouens hulle girlfriends en vroue gebring het vir ’n outing, want daar was mos nie malls of allerhande entertainment soos deesdae nie,” voeg Payne­ by.

GEDUG: Santos was in die 1980’s die talk of the town. Foto: Verskaf

Hy het ook vroeg in sy loopbaan sukses geproe toe hy in 1983 ’n ligatitel saam met die destydse Lightbodys Santos verower het.

“Toe kry ons ’n R50 shopping voucher van Lightbodys en jy was over the moon.

“Jy het nie net vir die badge­ gespeel nie, maar vir die love of the game.

“Op toer survive ons met twee Kentucky barrels en rolls – no fuss. Toe ons die eerste keer vlieg, het van die spelers siek geword, want dit was iets nuuts.

“Vandag is dit anders. Die spelers klim in hulle flashy karre, wen of verloor, en paartie en dis asof niks ’n big deal is nie.”

Dis ook toe “Mr Perfect”, soos hulle na hom verwys het, by die Griekse Gode van Hellenic sign waar sy status tesame met ander legendes soos wyle Reggie Jantjies verder gegroei het onder die klub se legendariese breier Budgie Byrne.

Coach

“Een van my highlights was ons game op Hartleyvale teen Kaizer Chiefs. Ek klop Lucas Radebe en toe vir Gary Bailey in die pale om te score voor ons home fans.”

SAAM: Neven Payne was ook ’n lid van Cape Town Celtic se sterbelaaide span. Foto: Verskaf

Payne het later in sy lewe die full circle gegaan met die klub toe hy ook sukses vermag het as coach met die klub se jonges toe hy die Engen Knockout met hulle gewen het.

Payne het ook groot lof vir sy vrou, Sharon, en drie dogters, Lynnré (34), Anthea (33) en Amy (25), uitgespreek vir hul opofferings oor die jare

“Soos jy kan aflei, is ek outnumbered en ek moet maar doen soos hulle sê,” skerts hy.

“Nee, wat, ek is baie geseënd met die vroue in my lewe, asook my kleinkinders wat my besig hou.”

GEKLOP: Neven Payne (regs) in sy heyday in aksie teen die Soweto-reus Kaizer Chiefs. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters