8 dae gelede
Ngidi moet sy staal wys
LUNGI Ngidi Foto: GALLO IMAGES  ~ 

LUNGI Ngidi se toekoms as ’n toetskrieketspeler kan in volgende maand se reeks teen Indië bepaal word.

Dié 23-jarige blitsbouler se talent kan nie in twyfel getrek word nie. Dit wil egter voorkom asof die beserings wat sy deelname vroeër vanjaar by die World Cup gekortwiek het, hom steeds pla en dít kan op lang termyn sy loopbaan beïnvloed.

Ngidi is tans lid van die Suid-Afrikaanse A-span wat in ’n nie-amptelike toets teen hulle Indiese eweknie in Thiruvananthapuram, Indië, speel. Die A-span vaar glad nie goed nie en boonop maak die nat toestande dit moeilik vir hulle om aan die gang te kom.

Die Suid-Afrikaners het gister op 179/9 in hulle tweede beurt gestaan toe reën die wedstryd in die eerste van twee toetse stopgesit het.

Sukkel

Zubayr Hamza (44 lopies), Heinrich Klaasen (48), Wiaan Mulder (46) en Khaya Zondo (10) is die enigste kolwers wat dubbelsyfer-tellings gekry het.

Hamza, Aiden Markram en Ngidi is al drie lid van die Protea-groep wat Indië in drie toetse gaan pak. Boonop sukkel Aiden Markram (aanvangskolwer) ook. Hy het in twee beurte net vier lopies bymekaargeskraap. Die eerste toets begin op 2 Oktober in Visakhapatnam.

Met Dale Steyn wat uitgetree het, is dit belangrik dat ’n bouler van Ngidi se kaliber opstaan en sy plek as ’n senior bouler inneem.

Hoewel hy tot dusver net in vier toetse gespeel het, word hy reeds as ’n senior van die Proteas beskou. Hy het al 22 ODI’s agter die blad.

Die druk is dus op Ngidi om sy plek in die toetsgroep te vestig. Die geleentheid is daar vir hom om die doemprofete stil te maak.

Die toestande in Indië gaan egter sake vir Ngidi en sy mede-blitsboulers moeilik maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters