2 maande gelede
Ngidi is gereed
fiks: Lungi Ngidi sal Saterdag weer kan speel. Foto: REUTERS  ~ 

DIE plan gaan dieselfde wees, maar die personeel het verander.

Suid-Afrika se krieketspan wil Saterdag ’n sege in die Wêreldbeker-toernooi om sy boulaanval bou.

Die Proteas pak dan Afganistan op Sophia Gardens in Cardiff en behoort hulle eerste oorwinning in die toernooi te behaal.

Die kaptein, Faf du Plessis, verwys na die Proteas se aanslag met hulle naatboulers as plan A.

Met beserings wat egter toegeslaan het, is dié plan nooit regtig in werking gestel nie.

Du Plessis maak egter geluide dat die einste plan gebruik sal word om Afganistan mee te troef.

Dale Steyn (skouerbesering) is nie meer daar nie, maar een van die ander beseerde naatboulers, Lungi Ngidi, is terug.

Hy sal saam met Kagiso Rabada die naataanval lei, maar die kanse is goed dat Beuran Hendricks en Chris Morris ook sal speel.

Ngidi sal Saterdag wanneer hy ingespan word, byna twee weke laas gespeel het weens sy dyspierbesering.

“Elke wedstryd is nou een wat ons moet wen (om die halfeindronde te kan haal),” het Du Plessis verduidelik.

“Daarom is ons gretig om Ngidi in te span. Hy het nog ’n paar dae om sy werklading op te stoot sodat hy Saterdag tien boulbeurte kan boul.”

Ngidi is gretig om ’n goeie vertoning te lewer, maar so ook die ander naatboulers.

Rabada het die kolwers gewaarsku dat hy nou sy ritme gevind het, en Hendricks en Morris wil graag hulle deel tot ’n sege bydra.

Kasty

Hendricks was in die Proteas se span vir Maandag se wedstryd in Southampton wat doodgereën het.

Hy het nie kans gekry om die Windies met sy balle te kasty nie en sien geweldig daarna uit om Saterdag sy kant te bring.

Du Plessis sê ’n goeie oorwinning oor Afganistan is vir die Proteas baie belangrik om momentum op te bou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters