5 dae gelede
Neymar sluit hom dalk nog by Real aan
NeymarFoto: gallo images  ~ 

“ENIGE iets is moontlik” met die onseker toekoms van Paris Saint-Germain (PSG) se ster-speler Neymar.

So sê Zinedine Zidane, die breier van Real Madrid.

Zidane meen Neymar kan hom steeds by Real aansluit voordat die Europese transfer window volgende maand sluit.

Volgens ingeligtes van Sky Sports onderhandel Real met PSG oor Neymar, wat hom in 2017 daar aangesluit het.

Die La Liga-klub het egter nog nie ’n formele aanbod aan PSG gemaak nie.

PSG se breier, Thomas Tuchel, sê hy kan verstaan waarom ondersteuners gefrustreerd is met Neymar.

Dis nadat die Ligue 1-kampioen sy titelverdediging sonder hom begin het en Nimes Sondag met 3-0 geklop het.

Oorweeg

Zidane sê: “Neymar is nie ’n lid van ons groep spelers nie, maar tot 2 September kan enige iets nog gebeur.

“Die groep spelers wat ons tans het, is goed, maar in dié stadium oorweeg ons hom nog net.”

Gareth Bale het vir die eerste keer in die voorseisoen ’n wedstryd vir Real gespeel.

Dit was teen Roma nadat die Walliese speler se beoogde skuif na die Chinese klub Jiangsu Suning misluk het.

Die 30-jarige se toekoms in Spanje bly onseker. Sy spanmaat James Rodriguez word met ’n skuif na ’n paar Europese klubs gekoppel.

Zidane sê: “Bale en Rodriguez is in ons groep, maar weer eens, enige iets kan gebeur.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters