7 dae gelede
Netbalspan ’n gunsteling
Die Britte het lof vir Shadine van der Merwe.  ~ backpagepix

NETBAL is dalk nou nie Suid-Afrika se grootste sport nie, maar vandag is daar genoeg redes om optimisties te raak oor dié nasionale span.

Die Proteas se veldtog in dié jaar se World Cup in Liverpool, Engeland, begin vandag.

Hulle pak Trinidad en Tobago in hulle eerste wedstryd van die groepfase.

In vorige toernooie is die Proteas maar geringgeskat.

Coach Norma Plummer en haar Proteas word egter vanjaar­ as ’n gunsteling beskou om met ’n medalje weg te stap.

Selfs die Britse media – gewoonlik baie selfbehep met hulle eie spanne – is opgemaak oor van Suid-Afrika se spelers.

Shadine van der Merwe (26) se lof word kwaai besing op BBC Sports se voorskou vir die toernooi.

Volgens die BBC is Van der Merwe ’n speler met groot drome.

Sy word aangehaal as iemand wat as ’n ikoon in die sport onthou wil word.

“Sy is dalk nie ’n flashy speler nie, maar sy is beslis betroubaar en iemand wat haar stempel op die netbalbaan kan afdruk,” word dié verdedigende vleuel van die Proteas op die webtuiste beskryf.

Agting

Van der Merwe – soos ’n hele paar van haar Protea-spanmaats – speel netbal as ’n beroepspeler by Surrey Storm in Engeland.

Sy het ook al in Australië die Adelaide Thunderbirds verteenwoordig.

Vir Karla Pretorius en Phumza Maweni is daar ook groot agting.

En Plummer het onlangs self aan ’n Afrikaanse dagblad vertel hoe kwaai daar op die verdedigers se ervaring gesteun sal word.

Pretorius en Maweni het saam vir die Sunshine Coast Lightning in Australië se Super­liga gespeel.

Sy is volgens Plummer nou slaggereed om die druk op internasionale vlak te hanteer.

  • Vandag se wedstryd teen Trinidad en Tobago word vanaf 18:10 op SuperSport se kanaal 210 uitgesaai.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters