7 dae gelede
Neil Powell sal moet herbeplan vir Spele
BLITSBUKS: Cheslin Kolbe sal verkies om eerder vir die Bokke teen die Britse en Ierse Leeus te speel.  ~ Gallo Images

NEIL Powell sê die feit dat die Olimpiese Spele en die Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika dalk in 2021 kan clash, beteken dat hy moontlik sy planne vir sy span ná die Spele moet heroorweeg.

Die Olimpiese Spele sou oorspronklik op 24 Julie vanjaar begin het, maar die organiseerders is gedwing om dit uit te stel ná die druk van sportfederasies en atlete weens die Covid-19-pandemie.

Die nuwe datums (23 Julie tot 8 Augustus) kan egter bots met die datum van die Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika in 2021.

Die Leeus beplan om hul eerste toetswedstryd teen die Bokke op 24 Julie in Johannesburg te speel.

Daarna pak die spanne mekaar op 31 Julie weer in Kaapstad. Die laaste toets is vir 7 Augustus geskeduleer.

Powell het op SuperSport se program The Grandstand Show erken hy’t gehoop om ’n paar vyftienman-spelers soos Cheslin Kolbe en Kwagga Smith by sy groep in te sluit.

Kolbe het egter reeds aangedui hy sal verkies om in die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus te speel.

Moeilik

Smith is egter nie ’n eerstekeusespeler vir die Bokke nie.

Powell sê: “Die uitstel van ál die toernooie maak beplanning uiteraard moeilik.

“Deur die Olimpiese Spele vir ’n jaar uit te stel, gaan dit in werklikheid dieselfde tyd as die Britse en Ierse Leeus-toer in Suid-Afrika plaasvind.

“Dit maak dit vir ons moeilik om die spelers wat ons graag by die Olimpiese Spele wou gebruik, te kry,” verduidelik Powell.

“En hier praat ek van Cheslin Kolbe en Kwagga Smith. Hulle kan albei dalk in die Springbok-groep wees wat teen die Leeus gaan speel.”

Volgens Powell is daar baie dinge wat die situasie vir hulle ingewikkeld maak.

“Van ons kant af het ons gevoel dat ons ’n goeie plan het vir die Olimpiese Spele in 2020.

“Ons sal ongelukkig volgende jaar amper moet herbeplan om seker te maak dat ons gereed is vir die Spele in 2021,” voeg hy by.

Wat moontlik in Powell se guns kan tel, is dat daar nog ’n kans is dat die Britse en Ierse Leeus-toer in 2021 teruggestoot kan word na ’n latere begindatum.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters