Verlede maand
Neil erken hy kon nie Celtic red
Neil Lennon  ~ Getty Images

NEIL Lennon bieg Celtic se “frustrerende en teleurstellende seisoen” is die rede hoekom hy besluit het om die handdoek in te gooi.

Lennon se posisie as breier is goed bekyk nadat die Skotse kampioenspan Sondag sy tweede nederlaag van die seisoen teen Ross County beleef het.

Dit beteken hulle het ’n enorme agterstand van 18 punte teenoor hul Glasgow rivals en die huidige voorlopers, Rangers.

Met agt wedstryde oor is daar ’n moontlikheid dat Steven Gerrard se Rangers verder sout in Celtic se wonde kan smeer deur die titel op Celtic se Parkhead-tuisveld op 21 Maart te wen.

Lennon is gister ingelig dat sy dienste nie meer benodig word nie.

Hoogtes

“Ons ervaar ’n moeilike seisoen weens talle faktore,” het Lennon verduidelik wat twee spells (2010-2014 en 2019-2021) met die klub gehad het.

“Dis baie frustrerend en teleurstellend dat ons nie dié seisoen dieselfde hoogtes kon bereik as in die verlede nie.

“Ek het my bes probeer om ’n ommeswaai te bewerkstellig, maar ons kon nie regruk nie. Ek het nog altyd net my bes vir die klub gegee. Ek is trots op die silwerware wat ek na die klub gebring het.

“Die klub was nog altyd deel van my gewees. Ek is dankbaar vir die persone wat my ondersteun het, my familie en vriende, asook die fans.

“Ek wens Celtic se direkteurs, spelers en personeel alle sukses toe vir die toekoms,” aldus Lennon.

Lennon se assistent, John Kennedy, neem tydelik waar. AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters