3 maande gelede
’n Ware yster
KLIPHARD: Nadir “Yster” Isaacs was een van die mees gevreesde losvoorspelers in die Saru-era.  ~ Adnaan Mohamed

NADIR “Yster” Isaacs was ’n verwoestende losvoorspeler wat vir niemand ’n tree teruggestaan het nie.

Die 51-jarige se rugbyloopbaan het by die Prim­rose Rugbyklub in Lansdowne op die Kaapse Vlakte as ’n junior o. 12 en o. 14 begin. Hy maar net ag jaar oud. Hy was later ook ’n staatmaker van die Violets Rugbyklub in die WP Rugbyunie.

Hy vertel: “Die liefde vir die game was so groot dat ek altyd teen ouer spelers gespeel het. Dit het so aangegaan deur die jare totdat ek op die ouderdom van 14 begin seniorrugby speel het. Daarvandaan het ek eerste span en City en Suburban-span gespeel.

“Dit het as ’n groot verrassing vir my gekom.

“My eerste game was teen Tygerberg op Floridapark. Dit was een van die taaiste games wat jy kon kry.

“Maar dan was die uitdaging om ook teen die gedugte WP op Groenpunt Track en teen Kwaru in die Dan Qeqe Stadion in die OP te speel. Wanneer jy dit beleef het, dan het jy alles in Saru-rugby ervaar.”

Weens sy uiters fisieke benadering tot die spel is Isaacs reeds van ’n jong ouderdom af “Yster” genoem.

Gedreig

Hy onthou: “Ek het vir Cities teen die WP as ’n 19-jarige in die Athlone Stadium gespeel. Ek sal nooit daardie game vergeet nie. Sewe van die ag spelers in die WP-pak was Saru-spelers. Nazeem ‘Tarzan’ Toefy en Faiek ‘Blatjang’ Hendricks was die stutte. Ek dink Ismail ‘Brother’ Khan was die haker.

“Ná die eerste losgemaal het Nazeem Toefy my met van die ‘mooiste’ woorde gedreig. Dis waar ek my man gestaan het en gewys het ek is nie bang nie.

“Nazeem was ’n groot Saru-speler. Ek het gedink as ek vandag my vlag laat sak, is dit klaar met my.

“Ek dink dit is die dag toe ek my bynaam, Yster, verdien het.

“Ek dink hulle het gesien ek kon ’n taak verrig.”

KRAGMAN: Nadir Isaacs hardloop volstoom vir WP.

Ná dié gam­e is Isaacs genader om vir die WP te speel.

Die WP-losvoorspelers – Ebrahiem Viljoen, Yagya Sakier en Cassiem Noordien – was ook Saru se lostrio.

“Ek moes een van dié drie uitspeel om die WP-span te haal. Dit was ’n moeilike taak, maar wat my anders gemaak het, is dat ek as ’n enforcer beskou is.

“Die WP het iemand gesoek wat die bal sterk kan opdra, die harde hits kan maak en die bal kan steel.

“Die ander losvoorspelers was baie takties, skillful en vinnig. Daarteenoor was ek sterk en vreesloos. Dis wat die WP-keurders gesoek het. Ek glo dit het my gehelp om die WP-span te maak.”

DIE MANNE: Isaacs was 16 jaar lank ook ’n rugby-administrateur van die Westelike Provinsie Rugbyunie. Hier is hy saam met van die WP se raadslede.

Isaacs het drie jaar vir die WP gespeel en voortgegaan om Saru se nasionale span te haal.

Ná eenheid in 1992 moes hy met spelers soos Andrew Aitken, Gert Smal en Tiaan Strauss vir ’n plek in die WP-span meeding.

Voorreg

Isaacs beskou Makaya Jack van Kwaru as die beste losvoorspeler wat hy in sy era sien speel het. Hy was ook ’n fan van die Bokke se Rob Louw en Jean-Pierre Rives van Frankryk.

Net soos Louw en Jack, het Isaacs die voorreg gehad om die nr. 6-trui vir Groen-en-goud te dra. Francois Pienaar (1995) en Siya Kolisi (2019) het ook die nr. 6-trui by die World Cup gedra.

Ná sy speeldae het Isaacs 16 jaar as rugby-administrateur gedien.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters