12 dae gelede
’n Onreg en ’n skending
Caster Semenya  ~ Gallo Images

’N ONREG en skending van menseregte!

Dít is hoe die Suid-Afrikaanse parlement die op­trede van Wêreldatletiek (die internasionale atletiekbeheerliggaam) teen Caster Semenya beskryf het.

Die Suid-Afrikaanse parlement het vandeesweek besluit hy gaan alles in die stryd werp om Semenya te help in haar stryd vir geregtigheid en gelykheid.

Prokureur

Dié aksie kom nadat die tweemalige Olimpiese 800 m-kampioen besluit het om Wêreldatletiek in die Europese hof vir menseregte aan te durf.

Gregory Nott, Semenya se prokureur, het vandeesweek in ’n nuusverklaring bevestig hulle gaan Wêreldatletiek in die hof die stryd aansê.

Semenya (29) is een van talle vroueatlete by wie hiper­androgenisme gedi­ag­noseer is.

Dit beteken haar natuur­like testosteroonvlak is aansienlik hoër as dié van die ander vroueatlete met wie sy kompeteer.

Wêreldatletiek se regulasies verhinder haar om aan items met afstande van 400 m tot die myl deel te neem, tensy sy medikasie gebruik om haar testosteroonvlak te verlaag. Sy weier om dit te doen.

Semenya het reeds in die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS), wat in Switserland gesetel is, teen dié regulasies geappelleer, maar sy was onsuksesvol.

Sy het haar daarna tot die Switserse federale hooggeregshof gewend om teen die CAS-beslissing te appelleer, maar het daar ook misluk.

“Ons gaan Wêreldatletiek in die Europese hof vir menseregte takel,” sê Nott.

“Ons bly hoop Wêreldatletiek sal sy fout raaksien en sal die reëls omkeer wat Semenya beperk.”

Wêreldatletiek hou egter nog deurlopend vol die regulasies is daarop gemik om ’n gelyke speelveld vir alle atlete te skep.

“Wêreldatletiek hou nog altyd vol dat sy regulasies wettig en regmatig is. Dit verskaf ’n regverdige, nodige en proporsionele raamwerk om die regte van vroueatlete te verseker,” het die beheerliggaam ná die uitspraak van die Switserse federale hooggeregshof gesê.

Atletiek Suid-Afrika hou ook vol dat Semenya deel is van sy 800 m-planne vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio.

Geraak

Indien Semenya egter nie aan haar voorkeur-item kan deelneem nie, sal sy moontlik probeer om vir die 200 m te kwalifiseer.

Hierdie korter item word nie deur Wêreldatletiek se maatreëls met betrekking tot vroue se testosteroonvlakke geraak nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters