3 dae gelede
’n Haastige stryd wag
Te vinnig: Bradley Olifant wen sy uitdun lag-lag.  ~ Mark Ward

BRADLEY Olifant hardloop vandag in een van die belangrikste naelloopwedlope van sy jong atletiekloopbaan.

Dít wanneer dié Wes-Kaapse atleet kort ná 15:00 in die Dal Josa­phat-stadion in die Paarl aantree vir die 100 m vir o. 20’s op vanjaar se Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskapsbyeenkoms.

Olifant het sy wedloop in ’n uitstekende tyd van 10,42 sek. afgeblits.

Hy sal egter op sy hoede moet wees vir Cohen Galant van die Suidwestelike Distrikte.

Galant, ’n boorling van Pacaltsdorp in George, het gewys dat hy dalk die titel na die Suid-Kaap kan neem toe hy sy wedloop in ’n indrukwekkende 10,86 voltooi het.

Dan is daar Gauteng se Mvuyo Moss, wat die beste tyd van die dag, ook 10,42, behaal het.

Met súlke kompetisie kan dit sorg vir ’n groot hoogtepunt in dié byeenkoms wat Saterdag eindig.

Vandag se tweede dag van die SA Jeugkampioenskapsbyeenkoms begin reeds 07:00 met die mans se 20 km-stapwedloop. Die dag word afgesluit met die mans se 800 m-eindwedloop 16:50.

Die naelloop-eindstryde begin 14:45 met die o. 16-wedlope.

Streng Covid-19-maatreëls word natuurlik toegepas. Alle atlete moet die stadion onmiddellik ná hul items verlaat.

Daar word ook geen medaljes oorhandig nie. Die medaljes word oorhandig aan die spanbestuurders, wat dit aan die onderskeie atlete sal uitdeel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters